Redakteursbrief — 24 Junie 2016

Die Engelse het ‘n mooi beskrywing daarvoor. “Scatter brain”. Doller as kop-af. My Nederlandse vriendin sê altyd “knettergek”.
My skoonsus vertel dat ‘n sekere persoonlikheidstipe die “groter prentjie” sien en ander sien weer die detail of die “kleiner prentjie”. Die mense wat die detail sien raak verbouereerd as hulle die groter prentjie agter die detail sien. Hulle fokus op die klein dingetjies wat uiteindelik die groter prentjie vorm.
Genade, ek weet nie of ek die groot of die klein prentjie sien nie, want ek het te veel prentjies in my kop. Ek probeer net om darem ten minste te lyk of ek georganiseerd is. Helaas.
So kry ek nou die dag uiteindelik ‘n afspraak by Johan Prinsloo, Medupi en Kusile kragstasiebestuurder. Alles mooi beplan. Ek meld aan by die besoekerskantoor, my permit lê op die tafel. Sy sekretaresse het alles gereël. Nou moet ek net my ID-boekie vir die sekuriteitsmense gee. Ek wil dit self nie graag glo nie, maar toe het ek nie enige vorm van identifikasie by my nie. Nie my rybewys nie, nie my ID-dokument nie. Niks. En ek kan om die dood nie eers naastenby onthou wat ek daarmee gedoen het nie.
Ek weet nie waar om my kop in te druk nie. Sowat van ‘n gekkespul. Die mense vra half ongelowig of ek al voorheen by Medupi was, want hulle kan nie glo dat iemand sonder enige identiteitsdokument by dié nasionale sleutelpunt opdaag nie.
Ek is van een kantoor na die ander. Die mense kyk my simpatiek aan – so amper asof hulle dink “siestog, iets is nie reg met haar nie” en verdwyn agter toe deure. Ek is al 20 minute laat vir my afspraak. Hulle het seker maar later gesien ek is regtig skadeloos en identiteitloos en seker gemaak ek kom by die regte kantoor uit. Ek skuld Medupi se sekuriteit ‘n groot dankie.
Die groter prentjie? Die detail? My prentjie bestaan uit sinkplaatpaaie, stukkende voertuie, ‘n student, ‘n matrikulant, wasgoed, vyf honde, ‘n gejaag na nuus en voortdurende spertye, jagters, kuiermense en groot dankbaarheid dat ek te midde van dié chaos omring is met hartsmense. Dat ons deurmekaar lawwe familie vir mekaar so lief is.
Terwyl ek hier skryf kry ek kort-kort boodskappe van die N1 wat gesluit is, plekke in Mamelodi en Hammanskraal wat brand en brûe wat afgebreek word. Geen paaie na Lephalale is toeganklik nie. Dan sê ek dankie vir my sinkplaatpad huis toe.
Solank jy leef en laat leef en ala Jan Rabie se robot Andries aanhou-beweeg-en-geraas-maak.

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.