Redakteursbrief — 24 Maart 2017

Dit was ‘n woelige week.
 Die vier verdagtes van die Pieterse-moord het Donderdag in die Landdroshof in Lephalale voorgekom.
Ek het die hofsitting bygewoon en dit was teleurstellend om te sien hoe swak die publiek hierdie saak ondersteun. Veral gesien in die lig daarvan dat plaasmoorde en –aanvalle oënskynlik steeds nie deur die regering as prioriteitsmisdaad gesien word nie. En dit terwyl ons daagliks in nasionale media lees van net NOG ‘n voorval. Dit het my verder opgeval dat min mense respek het vir die hof. Daar word in- en uitgeloop by die deur, sommige beamptes van die hof sit deurtentyd en slaap en dit is moeilik om te volg wat aangaan. Die verdagtes kyk rond, draai selfs om in die hof en flankeer met mense in die hofbanke. Hulle praat en lag onder mekaar en toon geen respek vir die hofverrigtinge nie. Hulle moes kort-kort aangespreek word. Tien uit tien vir die Landdros wat deurentyd professioneel opgetree het ten spyte van vele steurnisse. Die saak is uitgestel tot Dinsdag 28 Maart en ek hoop regtig dat meer mense uit die gemeenskap die familie sal gaan ondersteun. Dit kon enigeen van ons gewees het – ongeag velkleur of taal.
Die verkeer in die hoofstraat in die dorp was Donderdagoggend van vroeg af ontwrig deur ‘n “Progressiewe Jeug-alliansie”- optog.
Hulle eise was onder andere die vrystelling van grond vir ontwikkeling, 60% lokalisering van swart verskaffers, ‘n werkskepping- en vaardigheidoudit by Exxaro, Matimba en Medupi kragstasies, 50% afslag vir die vervoer van skoliere, 60% sentralisering van KMMO bemagtiging, internskappe en beurse vir inwoners, gratis Wi-Fi by elke skool en by TVET en die instelling van opleidingsentrums in landelike gebiede.
Die goeie nuus is dat gratis Wi-Fi en internet net die volgende dag by TVET bekendgestel is. Of daar aan al hulle eise voldoen gaan word weet ek nie, maar dat die kragstasies wel moeite doen om plaaslike mense te ondersteun en te bemagtig is ‘n feit. Dit is net belangrik om ook te onthou dat spesifieke poste spesifieke vaardighede vereis ten einde ‘n projek te laat slaag.
Baie geluk aan Eskom wat die Wi-Fi-projek by TVET gelei het, dit is ‘n groot stap vorentoe en ‘n reuse-tree in die rigting van ontwikkeling en uitbreiding in opleiding. Soos Phillip Dukashe van Medupi tereg gesê het – opleiding en opvoeding kan mense, gemeenskappe en selfs die land verander.
Mag die studente hierdie projek sien as ‘n voorreg. As ‘n inisiatief om hulle te help met hul opleiding. Dit is NIE ‘n reg nie.
Tot volgende week – geniet die talle openbare vakansiedae!
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.