Redakteursbrief – 25 Maart 2016

Editorial

Die sensusmanne daag nou die dag by die plaas op. My ander helfte herken die een man nog van die vorige keer dat hulle sensusopnames by ons gedoen het. Maar daar is ‘n verskil.
Vandag het hy ‘n tablet saamgebring met die GPS-koördinate van die huis aangedui. En hulle werk net volgens die koördinate. Die probleem is net – volgens die koördinate is die woonhuis op die plek waar die stoor is. Ander helfte verduidelik aan hom dat daar nog nooit mense daar gebly het nie.
Dit was jare gelede ‘n plaaswinkel en daarna is dit as stoor gebruik. Die sensorman sê maar in daai geval kan hy nie die getal inwoners aanteken nie, want ons bly nie in die huis soos op die GPF aangedui nie. Uitgemaakte saak. Ons tel nie.
Die opening van die nuwe kliniek in Marapong, daar waar die ou Marapong Mediclinic was, is die uiteindelike realisering van ‘n projek wat baie lankal reeds oor onderhandel is. Danksy baie insette van die Lephalale Development Forum (LDF) in samewerking met die munisipaliteit en ander rolspelers het Marapong se inwoners dus van nou af behoorlike mediese sorg-fasiliteite. In sy toespraak het adjunk-president Cyril Ramaphosa die gemeenskap van Marapong geprys vir hulle geduld en dat hulle bly wag het vir dié gesondheidskliniek in plaas daarvan om dit af te brand. Rêrig? Deur dinge af te brand gaan definitief nie ‘n nuwe gesondheidsfasiliteit verseker nie. Of ‘n nuwe, beter opleidingsinstansie of skole nie.
Gepraat van skole… ek lees in die Sowetan (en later in verskeie ander media) van hierdie skool in Limpopo waar die kinders in sulke haglike toestande moet skoolgaan. Die skool se naam is Mpepule Primary. Die skool is minder as ‘n kilometer van ons huis af. Op dieselfde plaas. Dit het begin as ‘n klein plaasskool en het intussen gegroei tot meer as honderd leerders. Die doel van die skool was aanvanklik om opleiding te gee vir die kinders van plaaswerkers in die omgewing. Dis lankal nie meer die geval nie.
Nietemin, in die Sowetan-artikel word onder andere berig dat hierdie kinders droë brood en swart tee vir ontbyt kry. Dit terwyl die omliggende wildboere en jagters gereeld vir die skool vleis en ander kos gee. Buitelandse jagters val oor hulle voete om jaarliks skoolbenodigdhede, skryfbehoeftes, kos, lekkernye, klere, ens. vir die skool te gee. Spanjaarde het vir hulle badkamers gebou. Dit is verwoes. Ons het ‘n paar jaar gelede die kinders gehelp om kerskaartjies te maak en een van die buitelanders het dit oorsee gaan verkoop. Die fondse is teruggeploeg in die skool.
Wat doen die departement van onderwys? Die skool was meer as ‘n jaar sonder ‘n skoolhoof. Hulle gee vir die skool ‘n groot plasmaskerm-TV – maar die skool het op daardie stadium nie elektrisiteit gehad nie. Ons het tot baie onlangs vir hulle water gegee. Ons het hulle geleer groente plant sodat hulle gebalanseerd kan eet.
Die kinders gaan een maal per maand (aan die einde van die maand) huis toe. En huis beteken in meeste gevalle Shongoane. Waar daar baie skole is. Ons het hoeveel keer al gevra waarom moet die kinders van Shongoane af kom om by Mpepule skool te gaan? Is dit dalk vir die ouers gerieflik om vir ‘n hele maand nie vir hulle kinders hoef te sorg nie? Dat hulle nie behoorlike slaap- of wasgeriewe het nie. Die kinders verdien beter.
Dalk is hierdie “oopvlek” van Mpepule ‘n goeie ding. En dit val net so reg saam met Menseregtedag. Die departement moes lankal wakker geskrik het.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.