Redakteursbrief — 26 Aug 2016

Ja, dis weer daai tyd van die jaar. Die matrieks skryf rekordeksamen en natuurlik het ek ‘n matrikulant in die huis.  
Volgens ‘n artikel op huisgenoot.com is die rekordeksamen baie belangrik vir kinders wat ernstig is oor hulle toekoms, want dié eksamen maak deel uit van leerders se jaarpunt wat 25% van die finale punt aan die einde van die jaar tel. Die ander 75% bestaan uit die punt wat in die eindeksamen behaal word. Ek wonder of almal dit weet?
Die einste matrikulant sê nou die middag uit die bloute vir my hy het gehoor Lephalale gaan nog ‘n spookdorp word. Hulle praat baie daaroor en almal is negatief oor die dorp se infrastruktuur wat nie voldoende is of was vir die vinnige ontwikkeling nie. Hy meen baie mense in die dorp het geskep toe dit pap gereën het, maar dit is nou op ‘n einde. Die wat baie het kry meer en die wat min het kry al hoe minder.
Ek het aan hom probeer verduidelik dat sy prentjie heeltemal te donker is.
‘n Gesprek met Jacques Snyman van die Lephalale Development Forum, wat spesifiek aangestel is om rolspelers en die Lephalale Munisipaliteit bymekaar te bring om as vennote op te tree in die groei van die dorp, het my tog ‘n bietjie hoop gegee dat besigheid weer sal toeneem en dat daar baie projekte is waaraan gewerk word waarby die gemeenskap van Lephalale sal baatvind.
Lees gerus solank ‘n paar berigte in hierdie uitgawe oor projekte wat vordering maak – sommige stadiger as ander – maar dit is goed om te weet dat daar planne in plek is om ons omgewing te beskerm en op te pas en wat natuurlik ook werk sal skep vir plaaslike inwoners. Dit beteken ook dat die ekonomie in ons dorp weer ‘n hupstoot sal kry. Geduld.
Laastens, baie dankie aan romanskrywer, digter en beeldhouer Carina Stander wat op die plaas Bergfontein grootgeword het, vir die roerende artikel wat sy spesiaal vir Mogol Pos geskryf het oor hulle gesin se afskeid neem van die plaas. Sy toor met woorde.
Sterkte ook aan Sarel en Truiki met die groetslag – ons gaan julle inloer by die kantoor baie mis!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.