Redakteursbrief — 27 April 2018

Om in jou truspieël te kyk as jy stilstaan by die verkeerslig en te sien die voertuig wat van agter af kom gaan nie stop nie, moet ʼn aardige gewaarwording wees. Dit is egter presies wat Saterdagaand met Jannie Powell gebeur het. Sy splinternuwe kar is afgeskryf.

En Maandag vind hy uit die ondersoekbeampte op die toneel wat die ongeluksverslag ingevul het, het nooit ʼn dossier geopen nie omdat die bestuurder van die ander voertuig van die toneel af gevlug het. Nou hoe verklaar mens hierdie een?

Dawid du Plessis wat in Januarie vanjaar deur ʼn Mosambiekse spoegkobra in sy bed gebyt is, het by Mogol Pos se kantore kom kuier. Dit was goed om te sien sy lewenslus is terug en sy ma lag weer. Die pad wat hulle tot hier gestap het sou hulle nie kon doen sonder die ondersteuning van die gemeenskap nie – die hele hospitaalrekening was vereffen toe hulle die dag daar uitstap. Wat ʼn ongelooflike voorbeeld van naasteliefde.

As mens die dag besluit om amper 4 000 km met ʼn tuk tuk af te lê moet jy jou beplanning goed doen. Lees gerus van Jan Schoeman en sy twee seuns wat die wilde perd (of moet ek sê tuk tuk) opgesaal het op die agterblad.

Geniet die langnaweek – tot volgende week dan.

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.