Redakteursbrief — 29 Julie 2016

Mens moet maar altyd versigtig wees waarvoor jy wens. So wens ek aanhoudend dat die winter nog so bietjie langer by ons moet bly, want ek sien net nie kans vir die warm, sweterige somer nie.
En daar word my wens elders waar. Ook in Potch waar my kind wat vrot is van die griep, bykans verkluim. Die wêreld is deurmekaar, die weer is deurmekaar. Waar het jy al gesien dat dit tegelykertyd reën in feitlik al die provinsies – aan die einde van Julie?
Terwyl ek hier skryf hoor ek net voorspellings van hoe koud dit oral gaan wees, maar helaas – ek het nou net my trui uitgetrek. Sover het ons nog nie eintlik die vreeslike koue front gevoel nie.
Sondagoggend vroeg trek ek my tekkies aan en teen 09:00 is ek op pad na Ga-Seleka om te gaan hoor wat ons Staatspresident, Jacob Zuma, vir die mense wil sê. Natuurlik is dit ‘n politieke byeenkoms, maar nietemin, dit bly die land se president en ‘n nuuswaardige geleentheid.
Dit neem my meer as ‘n uur om bo-oor gate en sinkplaatpad en dongas en los klippe te worstel totdat ek uiteindelik op die teerpad is.
Teen 10:00 sit ek in die voorste stoele, reg om mooi te luister en wonderlike foto’s te neem.
Al inligting wat ons vanaf die munisipaliteit gekry het, is dat President Zuma om 10:00 by Seleka se sportstadion gaan wees om die gemeenskap toe te spreek.
Kort daarna neem ‘n ou, kromgetrekte vroutjie haar sitplek in. Ek en sy kuier lekker saam. Kort-kort vra sy vir my waar bly die President dan? “Daai mense gaan almal môre by die dokter wees” merk sy ewe droog op en wys na ‘n jolige klomp wat spring en dans in die bosveldwinterson en wind.
Teen 12:00 is dit nie meer snaaks nie. Ek vra al die mense wat lyk of hulle moet weet wat aangaan of hulle weet waar die President is? Niemand kan my regtig antwoord nie. Teen 13:00 het mense doodluiters stoele voor ons neergesit en hulle plekke ingeneem. My buurvrou was bitter ontstoke, want sy sit dan nou reeds van 10:00 af daar voor sodat sy mooi kan sien en hoor.
Teen 14:00 doen ons navraag. Ons hoor die President is eintlik al die hele oggend by die gemeenskapsentrum besig met toesprake, maar die media is nie daaroor ingelig nie. Ons jaag soontoe net om sy agterkop te sien soos hy verdwyn om middagete te gaan eet. Sy lyfwagte wys my vriendelik, dog ferm, daarop dat ek na die sportstadion toe moet gaan, want hy gaan die gemeenskap toespreek nadat hy middagete geniet het…
Maar meneer, jy verstaan nie, ons sit reeds daar van 10:00 af…
Ek stop 16:30 by die huis. Poegaai. Rooi wange gebrand in die winterson.
Skurf gewaai deur die wind. Ek blaai gou deur die pamflet wat aan almal uitgedeel is – en daar lees ek dit raak – een van die hoofvoornemens van die regering is om alle teerpaaie te onderhou en alle grondpaaie gereeld te skraap..

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.