Redakteursbrief — 29 September 2017

Vandag het ek nie regtig woorde nie.
Statistieke vir plaasaanvalle en –moorde word gereeld verskaf. Ek persoonlik wéét hierdie dinge. Maar as dit op een Woensdagaand aan ʼn gemeenskap se deur kom klop is dit onbeskryflik seer.
Ons kinders was saam op skool. Saam rugby gespeel. Ons het saam met die seuns Margate en Stellenbosch toe getoer. Goeie tye en wonderlike herinneringe. (Om Werner langs enige rugbyveld te beleef is terloops nie vir sensitiewe kykers nie).
My eerste kennismaking met Werner en Mariëtte is toe my jongste een aand daar oorgeslaap het. So vertel hy toe hy terugkom dat hy so rondom eenuur die nag wakker skrik met oom Werner wat by die venster uit skree: “F@##%f! Voertsek! Gaan weg!”. Hy sê hy wonder toe nou nogal wat aan die gang is, toe klop tannie Mariëtte saggies aan sy kamerdeur. Stap na hom toe en vryf sy rug. “Francoistjie, oom Werner praat nie met jou nie hoor? Hy praat met die honde”.
Werner met die groot stem, die harde hou op die rug, altyd besig om iemand “moeilikheid” te gee. Wat my man “George” noem, maar sy naam is eintlik Robert. Hy weet dit, maar sy oë het eintlik sulke skrefies getrek van lekkerte as hy hom groet met ʼn “hallo George!” Werner met die hart van goud.
Mariëtte wat kanker oorleef het, ʼn sagte vrou met deernis in haar oë. ʼn Sterk vrou. Sy SAL hierdie aanslag oorleef en sterker anderkant uitkom. En die gemeenskap van Lephalale staan bankvas agter hulle.
Hierdie insident was dalk net een te veel.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.