Redakteursbrief — 3 Feb 2017

Die wonderlike reën wat die afgelope tyd geval het, het spreekwoordelik stof geskop in alle voorspellers se oë. Teen alle verwagtinge in is die Bosveld groen en ruig en nat.
Jammer dus dat onaangename voorvalle hierdie week die hoofnuus haal.
Nóg leeus word onthoof en hulle pote afgekap. Net voor druktyd word die eerste verdagte gearresteer (sien berig op bladsy 16).
In ‘n ander saak word ‘n bekende, en vir sommige ‘n geliefde man uit die gemeenskap gearresteer vir onder meer onwettige renosterstropery. Moontlikhede van onwettige handel in renosterhorings word ook ondersoek.
Ek kyk Dinsdag hoe staan hy in die beskuldigdebank in die Landdroshof. Hy sal enigiets doen om saam te werk met die ondersoek blyk duidelik uit die getuienis.
Natuurlik is borg die eerste prys en daar word aangevoer dat om jou eie renoster sonder ‘n permit te skiet nie so erg is as om iemand anders se renoster onwettig te skiet en die horings te verwyder nie.
Die vraag wat duidelik uit die publiek na vore kom is – waar word die lyn getrek? Woedende grond- en renostereienaars basuin die ergste moontlike straf uit op openbare media platforms. Vat liewer aan ‘n man se vrou voor jy aan sy renoster vat… Een van die vrae wat in die hof gevra word is of hy veilig sal wees te midde van die woedende publiek daar buite.
Minute tevore was ek in dieselfde hofsaal waar twee vermeende stropers borg geweier is omdat die derde verdagte nog nie aangekeer is nie. Hulle kan moontlik inmeng met die ondersoek (lees die berig op bladsy 16).
In die Freitas-saak word gepleit dat hy moet borg kry. Tog word daar deur die ondersoekbeampte aangevoer dat “die mense wat teen hom moet getuig en verklarings teen hom afgelê het bang is dat hy moet terugkeer plaas toe”. En die ondersoek het skaars begin. Twee kry nie borg nie, een kry borg. Dieselfde oortreding, dieselfde hofsaal op dieselfde dag. Sal interessant wees om te sien watter wending die saak neem en wat die forensiese ondersoek Vrydag gaan oplewer.
Ons hou julle op hoogte.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.