Redakteursbrief — 3 Maart 2017

Die afgelope tyd se wonderlike reën het die Bosvelders met ‘n lied in die hart gelaat. Oral op sosiale media word foto’s versprei van watervalle, plate water wat staan, mense wat baldadig in die water staan en groen gras en veld. Die Vaaldam bereik sy 100% merk. Aan die Rand word laagwaterbrûe gesluit omdat die water te sterk loop.
Ons was die afgelope naweek Nelspruit toe en kon nie die verskil glo tussen hoe die Laeveld daar uitsien teenoor Oktober verlede jaar nie. In Oktobermaand het ons die een trok met voer na die ander op die pad gekry. Die afgelope naweek se rit het ons na ons asems laat snak – dis net groen waar jy kyk en in elke kloof loop ‘n waterval.
En dit alles ten spyte van ‘n donker prentjie wat aan die begin van die jaar geskets is deur weervoorspellers. Ons het ‘n baie droë jaar verwag. Vooruitskattings is gemaak dat die eerste reëns eers in Februarie vanjaar sou begin val – indien wel. Dit leer ons net weer dat niks in ons hande is nie. Elke liewe ding sal gebeur soos dit moet – of ons nou dink dis die regte tyd of nie.
Aan die ander kant voel mens eintlik half skuldig teenoor die Weskaapse inwoners wat steeds deurloop onder waterbeperkings. Die Theewaterskloofdam en ander damme is leeg. Die fynbos op die berge brand.
Teen druktyd is daar vyf mense dood in voertuigbotsings in Lephalale. Dit is in ‘n kwessie van een week. En dit is net die gevalle waarvan ons weet. Volgens lede van die noodspanne en paramedici wat hulp verleen op ongelukstonele, is daar min botsings (en fatale botsings) waar alkohol en gepaardgaande spoed nie ‘n rol speel nie.
Ek het wel al in hierdie rubriek gepraat van die vreesaanjaende motoriste op die Markenpad. Hulle jaag teen die spoed van lig en stuit vir niks. Die slegte deel van die storie is dat onskuldige mense ook hieronder ly. En die gesinne en geliefdes wat agterbly.
Ons as media kan ongelukkig nie mense se gedrag verander tensy hulle nie self insien watter skade hulle doen nie.
Waarna jaag almal so? Na die wind?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.