Redakteursbrief — 30 Junie 2017

Daar is soveel WhatsApp-groepe wat die laaste tyd in die omloop is dat ek nie meer kophou nie. Die probleem is dat mense in die joernalistieke bedryf aan ‘n akute vorm van FOMO (fear of missing out) ly. En ons mag, want ons moet op hoogte wees van wat aangaan. So sit ek Saterdagaand by my huis op die plaas en sien op ‘n WhatsApp-groep van die twee voorvalle waar daar oproerigheid tussen die betrokkenes was.
By die een toneel wou omstanders na bewering ‘n voertuig aan die brand steek en by die ander toneel was omstanders blykbaar aggressief en het hulle vreeslike goed vir mekaar gesê. Dit is kommerwekkend. Ek kon aan die boodskappe aflei dat van die betrokkenes half paniekerig was.
Ek praat met Thys Eloff en hy sê dit is omdat mense nie (onder andere) die padreëls nakom nie. Ek hoop hy is reg. Dit voel vir my hierdie is ‘n diepgewortelde probleem wat dringend aangespreek moet word. Daar is genoeg misdaad en ellende, die inwoners van ‘n dorp kan nie ook nog téén mekaar werk nie.
Intussen sukkel Flora se familie steeds om afsluiting te kry nadat sy vermoor is. Ratlou het met hulle gaan gesels om agter die kap van die byl te kom. Lees gerus sy berig op bladsy 8.
Ons voorbladartikel wat gaan oor gebede teen mishandeling, in watter vorm ookal, is bemoedigend. Daar is toenemend gevalle van die mishandeling van vroue en kinders, geweld wat toeneem, dwelmverbruik onder die jeug. Die volwassenes van die toekoms. En dit is so belangrik dat ons jong mense “opgehef” moet word en weerbaar moet wees teen al die dinge wat hulle toekoms vernietig.
Dit is ook met groot dankbaarheid dat ek kon gesels met die gesin wat Vrydagmiddag, op pad na ‘n jagnaweek, in ‘n ernstige ongeluk betrokke was. Al vier van hulle leef en niemand is ernstig beseer nie. ‘n Wonderwerk. En sekerlik nie hulle tyd om te sterf nie.
My hart gaan uit na Gerda Fourie wat dieselfde Vrydag haar man, Piet, aan die dood afgestaan het. Die derde lid van haar gesin wat dood is as gevolg van ‘n motorongeluk. Al haar hartsmense is weg. Mens verstaan nie altyd nie…
Die Bosveldfees is om die draai, maak seker jy kry volgende week se Mogol Pos vir ‘n glansbylaag propvol nuttige inligting oor die fees.
Probeer dan intussen om die komende week in vrede en verdraagsaamheid teenoor mekaar te leef en te werk.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.