Redakteursbrief — 31 March 2017

Dit was die afgelope tyd vir my opvallend dat die Limpopo Polisie meer pogings aanwend om misdaad te bekamp en kriminele vas te trek. Ek het na die afgelope naweek verskeie verslae ontvang van SAPD skoonmaakoperasies wat geslaagd in Limpopo uitgevoer is.
Ek kry weekliks meer as ‘n handvol mediavrystellings vanaf Limpopo SAPD oor suksesvolle arrestasies, hofuitsprake en skoonmaakoperasies in dorpe in Limpopo. In die Lephalale-omgewing alleen is daar die afgelope naweek 21 arrestasies gemaak vir verskeie oortredings.
Wat my telkens opval is die vernuf en slim planne wat kriminele maak. Hulle is ons gewone mense definitief een voor met inisiatief. Skelm mense is slim en hulle kan planne maak.
Mense wat in die besit van dagga gevang word is so algemeen soos loop in die straat.
Die hoeveelhede verskil net soms. Die man op straat besef nie hoe ‘n probleem dit in ons dorp is nie. Maar ek moet sê Herman Botha van Swartwater het my nogal beïndruk met sy blatante daggakwekery in tonnels. Die toestande is perfek, sy plante welig en groen. ‘n Belowende boerdery sou ek sê. Maar steeds onwettig.
Ratlou Mabula se berig oor die misdaad in Marapong het my net weer laat besef dat hierdie vrot appel, naamlik misdaad, in ons dorp groter is as wat die meeste van ons besef.
En as inwoners toenemend reg in eie hande begin neem soos wat reeds voorheen gebeur het, gaan hier chaos heers.
Die Pieterse-vier, verdagtes in ‘n plaasmoord, was weer Dinsdag in die hof vir Joel Matshaba se borgaansoek en na ‘n baie lang dag in die hof is borg nie toegestaan nie. Baie baie dankie aan almal wat moeite gedoen het om die hofsitting by te woon ter ondersteuning aan die familie en dankie aan die ondersoekbeampte vir sy harde werk om seker te maak kriminele word nie hersirkuleer nie.
Die kersie op die koek hierdie week vir my is die sowat 300 kg vrot vleis wat in mense se voortuin beland het. Dit was ‘n groot raaisel wát iemand sal motiveer om vrot vleis in iemand se erf te gooi. Nietemin, Edward van die munisipaliteit en Sybil het ingespring en die beste van ‘n baie vrot saak probeer maak. Dankie daarvoor.
Fluit fluit, tot volgende week.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.