Redakteursbrief — 4 November 2016

Dis een van die boodskappe wat ek die meeste vrees. ‘n Boodskap dat daar ‘n plaasaanval was. Ongeag of iemand dood is of nie. Dit is net een van die wreedste dinge wat daar is.
Oom Poem was welbekend en geliefd in die gemeenskap. Hy het niemand kwaad gedoen nie. Mens verstaan nie waarom die boosdoeners hom en Kotie moes seermaak nie. As hulle geld wou gehad het, hoekom nie net die geld en alles wat hulle wil hê vat en loop nie? Waarom soveel wreedheid?
Ek onthou die eerste keer wat ek by oom Poem aan huis was. Dit is seker maklik drie jaar gelede. Hy het my gebel, want hy was woedend oor sy wild wat in strikke gevang word en vreemdelinge wat deur sy grond loop en maak soos hulle wil. Sy eintlike woede was teenoor die polisie wat dit volgens hom nie ernstig opgeneem het nie. Hy het onder andere gesê hy is nie meer lus vir die wêreld soos dit geword het nie. Die wetteloosheid en misdaad het hom onder gekry.
Nou was hulle self die slagoffers van iets erger as wildstropery.
My hart gaan uit na Kotie en die hele familie wat ná hierdie trauma nuwe planne sal moet maak om normaal met die lewe te kan voortgaan.
Gelukkig hoef oom Poem hom nooit weer te bekommer oor die wetteloosheid of misdaad nie. Rus in vrede Oom.
Die versengende hitte van die tyd het menige bosvelder laat brom. En natuurlik, as dit so warm is, brand dit. Verskeie boere en ander noodspanne het die afgelope naweek gestoei om brande geblus te kry. En dit terwyl die termometer raak-raak aan 43 ˚C. Mens luister met empatie na die paniek in hulle stemme oor die noodradio’s. Magteloos.
Ek stuur toe sommer Maandagaand ‘n boodskap vir my student en kerm lekker oor alles wat sleg is in die somer. Die goggas, muskiete, hitte, vlieë, die brande. Sy antwoord aan my het my laat skaam kry “dis niks teen die beauty van elke dag nie, Mamma”. Ja, soms staar ‘n mens jouself so blind teen alles wat verkeerd is dat jy die goeie miskyk.
Kreatiwiteit is die beste medisyne teen ‘n beswaarde gemoed. Saterdagggend se verf-werkswinkel by Jack’s Paint was net wat ek nodig gehad het om te vergeet van die son, die matriekeindeksamen, die student wat klaarmaak, die twee voertuie wat snaakse geluide maak, die besondere muskietseisoen en die lam vlieë wat in die huis rondhang. Vir ‘n paar uur het almal net gekonsentreer op hulle eie handewerk. Dit het my so begeester, ek soek nou net meubels om te verf!
Mag die Bosveld binnekort met milde reën geseën word…

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.