Redakteursbrief 5 Feb 2016

Dis moeilik om te dink Februarie is reeds hier. Sondag herinner my gesin my daaraan dat ons ‘n enkele maand gelede op 31 Desember op pad was na Mosselbaai om die nuwe jaar saam met familie in te wag.
Dis die tweede dag in Feburarie en dinge lyk nie goed nie. ‘n Muskiet is onder andere verantwoordelik vir ‘n nuwe (ou) virus wat kop uitgesteek het.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie verklaar die uitbraak van die Zika-virus as ‘n “openbare gesondheidskrisis van internasionale belang”. ‘n Beskrywing wat nie sommer gebruik word nie.
Op sommige dele van die land (soos natuurlik in Lephalale) kom ons om van die hitte, ander dele verspoel.
Dinsdagoggend lê die pad vol kospakkies, Lakama se werkers staak omdat hulle na bewering nie hulle bonusse gekry het nie. Ja, hoe meer jy dink dinge gaan verander, hoe meer bly dit dieselfde.
Maar ek het mos gekies om positief te wees. Dis nie moeilik nie, dis ‘n bewustelike besluit.
So word ons genooi na die oorhandiging van twee spoorsnyhonde in Mapungubwe.
Baie dankie aan almal wat vir ons so goed was. Ek voel besonder bevoorreg oor die feit dat daar nie eens nasionale media genooi was nie. Net die Mogol Pos. Omdat ons die vorige keer die enigste koerant was wat die feite reg gehad het.
Dankie vir die uitnodiging na een van die mooiste parke (indien nie die heel mooiste nie!) in ons pragtige land. Die koorsbome en die kremetarte het my asem weggeslaan. Die rotsformasies.
Die “confluence point” waar die Sashwe-rivier en die Limpopo bymekaarkom en waar jy uitkyk op die plek waar Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika bymekaarkom het my klein en nederig laat voel.
Die mense was ongelooflik. Charlotte van Woolworths. Johanna van die ereveldwagters. Dankie.
Die enigste probleem was dat dit ons bykans vier ure geneem het om die sowat 250 km na Mapungubwe af te lê. Slaggate. Ons moet nooit weer kla nie. Lephalale se paaie is fantasties.
Die pad vanaf Marken na Baltimore is heeltemal onrybaar, die twee spore weerskante van die “teerpad” getuig daarvan dat dit lankal onrybaar is. Bygesê, mens kan sien daar was van die begin af net ‘n enkele lagie baie dun teer gelê. Moontlik die destydse regering se poging om die pad rybaar te maak vir die boere sonder om aan die langtermyngevolge te dink?
Die pad tussen Swartwater en Alldays is net so vrot. Die gevolg was dat ons later op die GPS gesoek het na alternatiewe roetes – al was dit ongeteerde paaie – niks kon slegter wees as die slaggatpaaie nie. En ja, die alternatiewe roetes het gladder verloop en was baie interessanter as om die hele tyd te koes vir ‘n slaggat. Nietemin, ons het ons bestemming bereik presies sewe minute voor die hekke sluit. Die voordeel van al die slaggate is dat dit verhoed dat ‘n mens te vinnig kan ry. Geen manier nie.
Altyd ‘n positiewe by die negatiewe.
Lekker week!
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.