Redakteursbrief — 5 Mei 2017

Ek is eintlik ‘n stadsmeisie wat in die platteland beland het omdat die liefde my hiernatoe gelei het. In die stad doen elke ou sy ding en niemand gee regtig om wat in sy buurman se lewe aangaan nie.
Jy het jou vriendekring en jou gesin en dis dit. Jy nooi mense vir ete of julle gaan eet by ‘n restaurant. Deesdae voel die mense in die stad blykbaar ook nie eers meer veilig om saans buite te sit nie.
Ek vra gereeld vir my ander helfte of dit net in Lephalale is waar sulke vreeslike tragiese vreemde dinge gebeur of werk dit so in alle dorpe. Hy kon my nog nie regtig antwoord nie, maar ek vermoed elke dorp het maar sy porsie tragedie.
Vandat ek hier bly het hier soveel verskriklike tragiese dinge gebeur wat mens vir ewig sal bybly. In my 40+ jaar in die stad het ek nie eens geweet sulke dinge bestaan nie.
Ons was skaars hier toe kry ons die nuus dat Christo Kaiser van Unico Safaris deur ‘n olifant doodgetrap is. Drie dogtertjies verloor hulle pa. Kort daarna vlieg Chris du Plessis, bekende en geliefde vlieënier in die dorp, met sy helikopter in ‘n kragkabel vas. Ek sal nooit ooit sy gesin se smart vergeet nie. Die ongeluk waarin Marietjie en Armand Lourens op slag dood is en twee seuntjies agterlaat. Die Williams-seuns wat hulle ouers verloor.
Pippie wat die hele wêreld aangegryp het nadat sy feitlik geen kans op oorlewing gehad het nie. Michaela se lang lyding nadat sy deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gebyt is. Andrew Schoeman wat die byt van ‘n swart mamba oorleef. Malaria. Dan praat ek nie eens van plaasaanvalle en –moorde nie.
Meer onlangse gevalle is Scott van Zyl wat in Zimbabwe weggeraak het en die verskriklike tyding dat daar van sy oorskot in krokodille gevind is. Kristian Prinsloo wat in sy ouma se huis deur ‘n leeu aangeval word. En les bes – ‘n seekoei in die middel van die pad. Hierdie tragedies bly mens lewenslank by en ek wonder steeds of Lephalale ‘n uitsondering is.
Wat ek wel weet is dat Lephalale se mense ‘n uitsondering is as dit gaan oor omgee. Ek hoef nie eers hieroor uit te brei nie, as jy hier bly gaan jy weet dat die gemeenskap nie skroom om te help waar daar nood is nie.
Soos met vele ander gebeure het Kristian se dood die hele land geruk en plaaslike mense het soveel moeite gedoen om die ouers te ondersteun. Ek hoop van harte dat die gemeenskap ook sal uitreik na die Vos-familie. Niemand beplan tog so-iets nie. Niemand voorsien die uiteinde van iets nie. En almal maak foute.
Met die vakansiedae nou eers iets van die verlede wens ek elkeen van julle sterkte toe vir die laaaang weke wat voorlê.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.