Redakteursbrief – 6 Mei 2016

Niks kan die liefde en geduld van ‘n ma oortref nie. Dis net soos dit is.
So verjaar my student op Vrydag 29 April. 22 jaar oud. Dit opsigself wil my laat ween. Kan nie glo ek het dit tot hier gemaak nie. Kan ook nie glo dat hy ‘n man is nie. (Ek wil nog steeds vir hom vra of hy nie warm dingetjie wil aantrek nie…)
Nietemin, ons is gereed met ‘n bloubulsteak vir elkeen van hulle (ja, regtig), ‘n hele sak aartappels, ‘n reuse slaai en ‘n hele pan vol roerbraai. Rooiwyn op die huis. Ek gaan liefs nie verder uitwy oor die etery nie, dit mag dalk sensitiewe lesers skok.
Na ete verkas die klomp na buite en maak ‘n vuur so hoog soos die dak. Sodat hulle nog laaaank kan kuier. Ek sien hoe hulle ewe gekultiveerd die rooiwyn bekyk en beproe en dink daaraan dat ons Tassies gedrink het toe ons studente was. Niks van Merlot of Pinot Noir geweet nie. Nog minder van Shiraz. Tye het inderdaad verander.
Nodeloos om te sê het ek en my ander helfte ons maar later skaars gemaak. Skottelgoedwasser netjies gepak en beddens mooi skoon oorgetrek vir die klomp manne.
Ek skrik 23:30 wakker en wonder of almal veilig is, want hulle sou bietjie later na vriende op die buurplaas gaan. Ek steek my neus by die kamerdeur uit en sien die hele lot is al terug. Net om te hoor hulle was nog nooit weg nie. Hulle is nou eers op pad!
Ek slaap nie veel nie, bekommer my oor die klomp. 05:30 die volgende oggend hoor ek ‘n rumoer. Hulle is terug sê my student en hulle gaan nou eers bietjie slaap. Ek sou so dink…
Bondels mans lê die hele huis vol. En die huis ruik soos ‘n roofvoël se nes. Maar my hart jubel want almal is veilig terug onder ons dak.
So tussen die vee van die kombuisvloer, die in- en uitpak van die skottelgoed, die min en onrustige slaap van bekommernis of hulle veilig is en die onderlangse irritasie omdat hulle so omkrap en onophoudelik eet, sou mens dink ek moet met verligting op die stoel neersak na hulle vertrek. Maar ‘n ma is ‘n simpel ding. Ek mis hulle sowaar (my eie so bietjie meer as die ander). En ek is net so bly omdat almal dit geniet het.
Lees gerus wat sê Mike Molekoa van sy ma op bladsy 13 en hoe ma-wees drie vroue se lewens geraak het op bladsy 14.
My hartswens is dat elke ma Sondag met Moedersdag van haar voete af bederf sal word en oorvloedige liefde sal ontvang.
“’n Ma se liefde is vrede. Dit hoef nie verkry te word en ook nie verdien te word nie” – Erich Fromm.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.