Redakteursbrief — 6 Oktober 2017

Die jaarlikse matriekafskeidoptog is elke jaar ʼn groot hoogtepunt en vanjaar se jong dames en manne van Hoërskool Ellisras het nie teleurgestel nie. Mag hierdie jong mense wat Saterdagaand sterre in hulle oë gehad het, hulle toekoms met verwagting ingaan.
Welgedaan aan die organiseerders van Lephalale se eerste Wynfees wat Saterdag by die Mogolklub aangebied is. Dankie tog vir mense wat inisiatief neem, uit die boks dink en ʼn Wynfees in die Bosveld gereël het. Mag dit ʼn jaarlikse geleentheid word. As mens regtig jou verbeelding wou inspan sou jy amper kon glo jy is tussen die wingerde en berge in Stellenbosch …
Dankie ook aan Arona en Francois van
@Sold wat nie bang is om te waag nie.
ʼn Ander waardevolle geleentheid wat egter swak bygewoon is, was die gemeenskapsveiligheidsvergadering, gelei deur Lt Kol Jan Scheepers, Adjunk-Provinsiale Kommissaris. Hy het spesifiek gepraat oor veiligheid op plase, veiligheidswenke verskaf en inligting gedeel oor die Polisie en die tekort aan mannekrag en hulpbronne. (Die volledige berig is op bladsy 4).
Volgens Limpopo Landelike Veiligheid was daar verlede week vier plaasaanvalle binne 24 uur. Die slagoffers het gelukkig almal oorleef. Die Emslies se voorval het die hele dorp geruk. So word ons daagliks daaraan herinner dat veiligheid nie vanselfsprekend is nie. Dit kán met jou gebeur.
Teen druktyd was dr Mariëtte Emslie steeds in die intensiewesorgeenheid by Muelmed Hospitaal in Pretoria, maar haar vordering is sover baie goed. Ons glo dat sy volkome sal herstel.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.