Redakteursbrief – 8 April 2016

“I am fundamentally an optimist. Whether that comes from nature or nurture, I cannot say. Part of being optimistic is keeping one’s head pointed toward the sun, one’s feet moving forward. There were many dark moments when my faith in humanity was sorely tested, but I would not and could not give myself up to despair. That way lays defeat and death.”
Miskien moet ons toenemend aan hierdie woorde van ons geliefde Madiba nadink. Wees optimisties ten spyte van. Ten spyte van moorde, korrupsie, jong mense wat sterf, ‘n ongeloofwaardige landshoof, voedsel- en brandstofpryse wat die hoogte inskiet. As ons nie meer optimisties oor die lewe en die toekoms kan wees nie, gaan ons bang wees vir wat voorlê. En vrees lê jou lam.
Verlede Vrydag 1 April was daar twee plaasaanvalle in Limpopo. Enkele ure uit mekaar. Ek praat later met Sakkie Lourens, ‘n lid van die Heritage Protection Group (HPG). Ek was so half onder die indruk dat plaasaanvalle bietjie afgeneem het – definitief in ons omgewing in vergelyking met verlede jaar dieselfde tyd. Hy sê ja, daar was die afgelope tyd bietjie minder aanvalle in ons omgewing, maar in die res van die land kry hulle op ‘n weeklikse basis daarmee te doen, ons weet maar net nie daarvan nie.
Ek het die afgelope naweek ‘n boek gelees, geskryf deur Ben Freeth. Hy was ‘n boer in Zimbabwe met ‘n vooruitstrewende plaas. Die verskriklike vernietiging van alles wat opgebou is, die landbou-organisasies wat later opgee en teen hulle eie mense draai. Die polisie se absolute traak-my-nie-agtigheid omtrent die verskriklike misdade en wandade. Die kort en die lank is – die hele gemeenskap was later lamgelê deur vrees.
Hulle het eenvoudig hulle grond en besittings oorgegee. Dit is nie my bedoeling om te sê dat hulle eintlik ‘n keuse gehad het nie, want dit was óf dit óf hulle word wreed aangeval en selfs vermoor. Maar die intimidasie, vrees, wanhoop en uiteindelik oorgawe wat een man op ‘n hele gemeenskap kon bring, sê die skrywer, was grootliks te wyte daaraan dat die mense opgegee het en nie meer opgestaan het nie. Uit vrees.
Halfpad deur die lees van die boek het dinge vir my onrusbarend bekend begin klink. Grepe uit ons land se situasie klink baie soos wat dit in Zimbabwe gegaan het.
Die regering en elke liewe persoon wat in ons land (en natuurlik praat ek spesifiek met onse eie bosvelders) moenie lamgelê word nie. Ons moet saamstaan. Is dit nie juis daarom dat die dienskamer en die GPF so ‘n onontbeerlike deel van ons lewens en veiligheidsekerheid is nie?
Dinsdagaand is daar chaos by Mpepule Primary. Die ouers sê hulle is nooit gevra wat hulle daarvan dink om die skool te sluit nie.
Hulle kinders is veilig en gelukkig en word goed onderrig. Tog is die omstandighede waarin die kinders moet bly nie aanvaarbaar nie. Toe ek met verteenwoordigers van die departement van onderwys praat, sê hulle dit is nie NET hulle verantwoordelikheid nie.
Natuurlik nie, maar die res van die rolspelers het gedoen wat hulle kon…
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.