Redakteursbrief — 8 Dec 2017

Hierdie is die tweedelaaste uitgawe vir 2017 en alhoewel dit my soveel vreugde sou gee om aan die einde van die jaar net positiewe nuus te kon deel, is dit ongelukkig nie hoe die lewe loop nie.
Ons voorbladartikel oor die herrie wat op sosiale media losgebars het nadat ʼn minderjarige kind gesteel het en toe na bewering deur ʼn sekuriteitswag aangerand is, is nie ʼn mooi storie nie. Ongelukkig kan ons nie slegte nuus ignoreer nie, selfs met Kersfees om die draai.
Die berig oor die tweejarige kind wat dood is terwyl haar ouers na bewering langs die pad gesit en slaap het omdat hulle nie nugter was nie, is skokkend, veral gesien in die lig daarvan dat dit binne die tydperk val van 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders.
ʼn Positiewe storie is dat soveel mense op 1 Desember Nasionale HIV/VIGS-dag gevier het deur seremonieel kerse te brand ter herinnering aan geliefdes wat weens dié siekte gesterf het en diegene wat steeds die stryd stry.
En dan natuurlik die styging van die brandstofprys net voor die Feesseisoen. Baie mense se begrotings moet sekerlik aangepas word.
Gesondheid, tot volgende week!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.