Redakteursbrief – 8 July 2016

Ek hou elke keer my asem op as een van die kinders op pad huis toe is en ek weet hulle is êrens op ‘n pad waar motoriste onverskillig is, kanse vat en onverantwoordelik bestuur.
So wag ons die afgelope Vrydagaand vir die twee jong manne in my lewe om van Pretoria af huis toe te kom. Hulle is skoon wit geskrik toe hulle genadiglik veilig by die huis opdaag en vertel van ‘n motoris wat ‘n verskriklike botsing op die N1 veroorsaak het. Hulle het dit net-net gemis en kon nie uitgepraat raak oor hoe onverantwoordelik motoriste oor die algemeen is nie.
Toe ek aan hierdie koerant se bladsye begin werk tel ek nie minder nie as ses voertuigbotsings. Sommige fataal, ander minder fataal. Dit is net dié waarvan ons weet. En met die uitsondering van een insident, het die ander vyf op die Markenpad (R518) gebeur. Dit is ook die pad wat ek elke dag twee keer ry en daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie in koue sweet uitslaan oor die kanse wat motoriste vat nie. Dan praat ek nie eens oor die spoed nie! Daar was verlede week vir die eerste keer in miskien drie jaar ‘n spoedlokval op die R518, mag dié pad asseblief voortaan prioriteit wees vir die verkeerspolisie.
Ek wil graag in hierdie uitgawe totsiens sê aan iemand wat ‘n reuse verskil in hierdie dorp gemaak het. Iemand vir wie ek ongelooflik baie respek het. Valerie Cilliers – die laaste ruk was sy kommunikasiebeampte by Lephalale Munisipaliteit. Sy was altyd professioneel, het die vermoë om te luister, het altyd die koerant se spertye geakkommodeer en niks was vir haar te veel moeite nie. Mag sy net so ‘n groot verskil maak in Klerksdorp waarheen hulle gesin verhuis het. My beste wense vergesel haar. Haar weggaan laat ‘n gat in dié gemeenskap.
Op ‘n meer positiewe noot – baie baie geluk aan Malinda du Plessis met haar kroning as vanjaar se Mej. Bosveld. Geluk ook aan elke finalis en ander “gekroondes”. Mag al julle drome waar word.
Laastens, geniet die fees, hou asseblief matigheid voor oë, gee die kunstenaars in die biertent ‘n kans om op te tree sonder om by die kroeg soos barbare te kere te gaan en bly van die pad af as jy alkohol gebruik het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.