Redakteursbrief — 9 Maart 2018

Onbegaanbare paaie, twee jong vroue wat borg kry vir vermeende moord, Kokkedore, skolenuus, wilde honde en wildboere, bekendes wat uitstyg en ander wat groet. Dis waarmee ons hierdie week besig was.

Die grootste nuus waaroor die meeste mense die laaste tyd die heel blyste was, is die aanstelling van ʼn splinternuwe, jong skoolhoof vir Hoërskool Ellisras. Adriaan Joubert. Hy glo aan balans.

Namens Mogol Pos, baie welkom Adriaan – mag al jou doelwitte realiseer en mag jy en jou gesin baie gelukkig wees in Lephalale.

Johan en Annemarie Els is al so lank deel van die gemeenskap en hulle het albei met afsonderlike talente ʼn reuse-bydrae in die gemeenskap gelewer. Mag julle aftrede in Kleinmond alles wees waarvan julle droom en waarop julle hoop.

Kollega Ria het Saterdag ʼn funksie van Bereka Mosadi bygewoon. Die doel van die geleentheid het gegaan oor die bemagtiging van vroue deur kennis – alles onder die vaandel van die Christendom. ʼn Verrykende ervaring waarvan Mogol Pos met trots deel was. Lees gerus meer hieroor op die agterblad.

Ons voorbladberig gaan oor die eindelose probleme wat met paaie ondervind word en inwoners wat nie eers kan gaan werk omdat die paaie so ontoeganklik is. Die paaie of gebrek aan behoorlike paaie wat onderhou word is niks nuut nie. Dit is egter onaanvaarbaar dat mense verhoed word om te gaan werk omdat die paaie te vrot is. En natuurlik word die verantwoordelikheid weer eens oorgedra na iemand of iets anders.

Ons aanvanklike voorbladberig was oor Dominique (Nicci) Nell wat baie ernstig beseer is nadat sy in ʼn motorfietsongeluk betrokke was. Teen druktyd was sy steeds in ʼn stabiele, maar kritieke toestand, maar haar vordering het dokters verstom. Mogol Pos het egter na deeglike oorweging besluit om die berig nie te publiseer nie uit respek vir die familie se emosionele toestand en trauma wat hulle tans ondervind. Die gemeenskap word egter versoek om steeds te bid dat sy volkome sal herstel.

Dit is dan al vir hierdie week – maak seker jy koop volgende week se Mogol Pos vir ʼn onderhoud met Johan en Ansie Prinsloo. Johan is so-te-sê Meneer Medupi.

Groetnis!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.