Redakteursbrief

Dis nodig om die waarheid te hoor. Ons sit Sondag na kerk op die stoep en drink ‘n teetjie toe my ander helfte my amper van my stoel af tik. Dit het diep getref. Hy sê: “die afgelope vakansie was in baie opsigte vir my wonderlik, natuurlik omdat ons almal saam was en omdat ons so lekker gerus het, maar wat vir my die wonderlikste was, is dat jy nooit een keer negatief was of gekla het nie”. Die hou was raak. En waar. ‘n Onbekende vrou het my lyf verlede jaar ingeneem. Ek het haar self nie eers herken nie.
 Ons het een middag by die see gesit en gesien hoe die branders vorm – voordat ‘n groot brander vorm word die water tussen die rotse letterlik “uitgesuig” – al die water trek terug om die groot brander te vorm. En die proses herhaal en herhaal. Ek het vir ure daar gesit en net die mooiheid om my ingedrink en elke sekonde gekoester, want ek het geweet ek moet weer terugkom en die realiteit in die oë kyk.
 Toe my helfte vir my sê hoe dankbaar hy is dat ek positief was, het ek besef mens raak soos daai inham tussen die rotse wat leeggesuig word. Die verskil is net dat die water terugvloei en dit raak weer vol. Ek het nooit toegelaat of tyd gehad dat dit weer vol kon raak nie.
 Ek het nodig gehad om tyd te hê om te dink oor hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Ek het nodig gehad om weer met my siel kontak te maak. Om met my hartsmense tyd te spandeer. Ek het besef dat ek vanjaar graag meer tyd wil spandeer saam met vriende wat ek regtig graag wil sien. Ek wil my laaste kuiken vanjaar met oorgawe ondersteun en liefhê.
 Gepraat van kuikens. Ek kry gister ‘n oproep van die student. Hy is lankal terug universiteit toe om die eerstejaars “so bietjie van nader te leer ken”. En dis amper jool sien. Aangesien dit sy laaste jaar op universiteit is, is hy bang hy het dalk iets gemis. Daarom het hy besluit om vir hom ‘n pyp te koop. Ja, ‘n pyp om te rook. Sowaar. Mens moet nooit sê nooit nie…
 Maar soos dit deesdae by universiteite gaan kan hy moontlik een van die dae vir hom ‘n hele paar pype koop, want ons sal nie meer vir sy studies hoef te betaal nie. Dié hele palawa rondom gratis tersiêre onderrig is regtig kommerwekkend. Wil mens rêrig hê die kwaliteit van onderrig moet toenemend verswak?
 Maar kom ons wees positief. Dit gaan ‘n goeie jaar wees…
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.