Redakteursfrief — 30 September 2016

Ek het my eintlik voorgeneem ek skryf nie weer oor stink rioolsake nie. Nadat ek egter weer met Wynand Botha daaroor gepraat het, het ek besef mens kan dit nie net so los nie! Soos iemand nou die dag vir my sê – “ons is besig om ‘n siek dorp te skep”.
Ek het regtig probeer om positief te wees. Het die munisipaliteit geprys oor die twee nuwe pompe by Pompstasie 23. Maar my positiwiteit het soos rou riool in die Mokolorivier geval toe ek sien wat daar aangaan.
Ek sien nou een Sondagoggend hoe mense en kinders in die Mokolorivier speel – sorgeloos. Hulle honde drink van die water. En ek besef daar is onskuldige mense wat nie, soos ons, elke dag hiermee gekonfronteer word nie. Hulle is dalk nie bewus daarvan dat dodelike bakterieë in die water skuil nie. En dis reeds warm. Dink hoe lekker broei al die kieme.
Ek dink ons is al so gewoond aan die stank dat dit nou al heel aanvaarbaar geword het.
Ek ry Dinsdagmiddag na Pompstasie 23 om myself finaal te gaan vergewis dat die situasie daar eintlik van sleg na slegter is. Een van die werkers storm op my af en sê ek mag nie foto’s neem nie. Ek wonder so in die stilligheid of hy weet hoeveel foto’s daar al van dié area onder bespreking geneem is? En wat steek hulle weg?
Ek gaan begin tel hoeveel berigte ons al oor die riool in die dorp geskryf het. En al wil ek nie, is ek seker hierdie gaan nie die laaste een wees nie. Somer, stank en siektes blyk ons voorland te wees.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.