Die Redakteur

Op my bed lê ʼn tas. Klaar gepak want ek gaan vir my kind in die verte kuier. Ek vlieg eers oor ʼn week maar ek kán nie en wíl nie meer wag nie, vandaar ʼn gepakte tas ʼn week te vroeg.

Toe ek ʼn kind was, was Pretoria vêr en ʼn sussie of boetie wat stad toe gaan om te gaan studeer was ʼn uittog na die verte.

Vandag is ons kinders oorsee, ja ek ken baie mammas soos ek. Ons wie mekaar moed inpraat, wie mekaar se verlange deel en wie mekaar se vreugde deel as dit kuiertyd oor die verre waters is.

ʼn Ma se hart is darem maar ʼn wonderlike ding! Ons deel ons kinders se vreugde, hul drome en verwagtinge met soveel intensiteit terwyl ons stil-stil ons eie hart se pleister opplak. Dan trek ons ons brawe skoene aan “want ons is mos sterk”, ons is mammas, terwyl ons elke dag die foon dophou vir ʼn foto, oproep of boodskap – ons broodnodige lewensaar na hul “nuwe lewe”.

Wat ʼn wonderlike voorreg is dit om te kán gaan kuier, want daar is soveel ouers vir wie hierdie voorreg nie beskore is nie, dalk nooit weer sal wees nie. Daarom is my tas al ʼn week te vroeg gepak, daarom jubel my hart van dankbaarheid, opgewondenheid en vreugde.

Ek gaan hom vashou soos die seuntjie van agt wat vir my sy verjaardagkaartjie bring wat hy spesiaal vir my gemaak het. Ek gaan sy baie stories opluister, ek gaan alles doen en eet wat hy beplan het, want die Vader in die Hemel alleen weet hoe ek hierdie voorreg waardeer, hoe ek daarna uitsien, want twee jaar was lank.

Ek gaan die 20 uur vlug deursit met ʼn lied in my hart maar met deernis vir dié ouers wat nie hierdie voorreg het nie. Ek ken julle nie almal nie, maar ek druk julle teen my hart vas en vertrou God vir Sy vrede en troos oor Kerstyd. Mag Sy liefde ook julle leemte vul en onthou altyd, Sy genade is vir ons genoeg.

— Gerda

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.