Brief — 19 Augustus 2016

Die Redakteur
Die Mogol Pos het ‘n tydjie gelede die moeite gedoen om die plaaslike munisipale reëls en regulasies betreffende straatpartytjies en lawaai deur die bure te publiseer.
‘n Baie lawaaierige funksie is die afgelope naweek by Mogolklub se sportgronde gehou.
Die musiek was Vrydagaand 12 Augustus oorverdowend, maar draaglik, omdat dit teen ‘n redelike tyd opgehou het.
Saterdagaand 13 Augustus was egter `n perd van `n ander kleur – die musiek was oorverdowend en het aangehou tot ongeveer 04:30 Sondagoggend 14 Augustus.
Sover my kennis strek moet die instansie/persoon wat ‘n funksie wil aanbied, al die bure vroegtydig daaromtrent inlig asook tot watter tyd die geraas gaan duur.
Skriftelike aansoek en toestemming vir byvoorbeeld ‘n straatpartytjie moet by die plaaslike munisipaliteit en ook by die polisie gekry word.
Hierdie lawaai is wel by die polisie aangemeld en hulle het gesê dat daar toestemming is dat die partytjie kan aanhou tot 05:00 Sondagoggend. Sover ek kon vasstel is niemand aangrensend tot die Mogolklub kennis gegee of toestemming gevra dat die lawaai tot 05:00 die volgende oggend kan aanhou nie.
Ek voel dat dit heeltemal in orde is om partytjie te hou tot 24:00 of selfs 01:00 wanneer die aangrensende bure daarvan in kennis gestel is.
Ek beskou die afgelope naweek se partytjie as onbedagsame en kwaadwillige optrede – die dorp het immers reëls en regulasies wat deur almal gehoorsaam moet word.
Die vraag is nou – het die betrokke instansies/persone (organiseerders, munisipaliteit en polisie) hierdie regulasies nagekom?
Kan hierdie voorval asseblief opgevolg word met die regte persone?
— Antionette Malan
(Die kwessie is wel na die betrokke instansies verwys vir kommentaar – Red.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.