Brief — 29 Julie 2016

Die Redakteur,
Daar word so dikwels gekla oor die swak diens wat ons staatsdepartemente lewer. Ek wil net ‘n lansie breek vir twee van ons departemente hier in Lephalale wat puik diens lewer.
Eerstens – ons departement van binnelandse sake is seker die beste in die land en jy wag glad nie lank vir ‘n dokument waarvoor jy aansoek gedoen het nie.
Die ander doeltreffende instansie is Sassa. Die personeel is vriendelik en bekwaam. Was dit nie vir die dame wat aanmekaar kougom gekou het nie, sou ek hulle 10 uit 10 vir hulle diens gee.
Dan wil ek ook vir die seniors ouer as 60 jaar wat minder as R5 300 per maand, of ‘n senior egpaar wat minder as R10 600 verdien, aanraai om aansoek te doen vir staatspensioen. Neem drie maande se bankstate, jou identiteitsdokument en bewys van verblyf na die Sassa-kantore. Hulle help graag.
— Marie Glas

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.