Briewe/Letters – 22 September 2017

Die Redakteur
Die inwoners van Kerkstraat het my gevra om namens hulle ons dank uit te spreek teenoor die lede van die Lephalale Munisipale elektrisiteitspan.
Kerkstraat was net meer as twee dae sonder elektrisiteit en die frustrasievlakke was hoog. Daar was ’n kabelfout wat nie opgespoor kon word nie. Nadat die hulp van ’n kontrakteur ingeroep is, is die fout laat Sondagmiddag opgespoor.
’n TLB was nodig om die sloot oop te grawe en die bestuurder was in Mogalakwena vir die naweek. Die span het, terwyl hulle vir hom gewag het om terug te kom, intussen per hand begin grou aan die sloot en die kabelvervanging is voorberei. Die span het dwarsdeur die aand gewerk nadat van die lede alreeds die vorige twee dae baie oortydure gewerk het. Hulle gemoedere was deurgaans positief en vriendelik en hulle was vasberade om nie op te gee tot die krag herstel is nie.
Vroeg Maandagoggend is die fout en gevolglik die kragtoevoer herstel. Die ketels het behoorlik gesing soos almal koffie gemaak het!
Ek is deur baie inwoners gevra om hulle dank en waardering teenoor die span uit te spreek. Ons waardeer julle opreg.

Groete
Astrid Basson

 

Die Redakteur
Laerskool Ellisras wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om DANKIE te sê aan Mogol Pos vir jarelange ondersteuning en publikasie.
Julle het weer eens met ons jaarlikse Kultuurfees gewys dat julle kindervriende is, dat julle onderwys ondersteun en oop harte het om kultuur te bevorder. Die pragtige, kleurvolle, nie minder as vier bladsye vol foto’s getuig daarvan. Julle is altyd bereid om die ekstra myl te loop.
Hiermee ook ons opregte dank en waardering aan elke borg wat hierdie bladsye moontlik gemaak het, naamlik SASOL, LSS: Lephalale Site Services, Scrap Removers en CJ Roos.
Julle onbaatsugtige bydrae is vir elkeen van hierdie deelnemers, afrigters en hoofde ʼn riem onder die hart. Daarmee kweek ons kultuur by jong mense en dit bring Eenheid in Kuns.

— Rassiegroete, Anita Erasmus (Kultuurhoof)
en Anton du Plessis (Skoolhoof)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.