Die kierang van “spietse” en take

Moet mens die gedienstige ma’s wat hul bloedjies se toesprake en take namens hulle doen of dit aankoop jammer kry of kwalik neem?

Op ʼn sosiale platform adverteer iemand “asseserings take,” (sic) te koop. Daar word uitgestippel dat die persoon die tyd verkoop wat sy spandeer aan die assesseringstake.

Na ʼn bietjie speurwerk besef jy daar is selfs uit onderwys- en kommunikasiegeledere mense wat aan ouers toesprake en take verkoop. Professionele mense wat munt slaan uit ouers wat dit kan bekostig om hul kinders se huiswerk aan te koop.

Wie word slimmer as ma die klaspraatjie uitdink en skryf? Wie word meer lewensvaardig as ma’s die navorsing doen oor dieremishandeling, rampe of higiëne?

Ja, mens het begrip as ʼn kind tussen skool en buitemuurse aktiwiteite soos sport van tyd tot tyd vir hulp vra by Ma, maar daar is twee maniere om te “help”. Help in die sin van hand bysit verskil hemelsbreed daarvan om jou kind die afgrond in te help.

Het ons al so afgestomp geraak dat ons nie meer kan onderskei tussen waarheid en knoei nie?

Desember sê ʼn laerskoolleerder van Kempton Park dat hulle geen take of toesprake by die huis doen nie. Hul onderwysers verskaf riglyne en die skool voorsien bronne waarin die leerders dan tydens skooltyd self moet naslaan. Die kind word dus geassesseer. Indien die ouer die toespraak of taak doen word die ouer geassesseer! Indien die taak gekopieer word vanuit ʼn ander internetbron word vreemdeling, wat kundiges is, geassesseer. In laasgenoemde geval bly kind en ouer ewe oningelig en dom oor die onderwerp en die taak wat 90% tot 100% gekry het ʼn klug.

Mogol Pos het verlede jaar die skrywer *Sophia Kapp se opinie oor hierdie onderwerp gevra. Sy het in haar privaathoedanigheid kommentaar gelewer. (Dit is dus nie die Taalkommissie (waarop sy dien) of VivA-Afrikaans (wat aan skole, leerlinge en Jan Publiek ’n taaldiens lewer) se standpunt nie.)

Ek het diep, onwrikbare beginselbesware teen enige praktyk waar ʼn grootmens ʼn kind of student se werk namens hom of haar verrig. Ek praat nie van hulp en ondersteuning nie, ek praat van mense wat werk teen betaling doen wat deur kinders as hulle eie produk aangebied word. Opvoedkundig is dit ʼn ongesonde praktyk, eties is dit bedenklik en in die Suid-Afrikaanse konteks waar ʼn hele samelewing ʼn ontsaglike prys betaal vir geïnstitusionaliseerde korrupsie en bedrog is dit vir my onverskoonbaar. Kortom, as jy toesprake koop en verkoop, mag jy nie kla oor amptenare en politici wat omkoopgeld aanvaar of hulle CVs vervals het nie.

Dit gesê, het ek ook simpatie met die arme kinders wat onder skole, onderwysers en ouers se verwagtinge gebuk gaan om te presteer in kompetisies waarvoor hulle nie talent het nie, en om produkte te lewer waarvoor hulle kennis en hulle lewenservaring hulle nog nie toegerus het nie. Dit beteken ek is nie net met die kopers en verkopers van toesprake ontevrede nie, ek is ontevrede met ʼn opset wat die koop en verkoop van toesprake en ander skoolwerk moontlik en selfs noodsaaklik maak. Ek is ontevrede oor ʼn stelsel wat prestasie en sukses bo eerlikheid en integriteit stel.

Oor die advertensie wat jy aangeheg het (wat natuurlik ʼn ander saak is as toesprake) net dit: As jy werk en/of tyd aankoop van iemand wat nie kan spel of samehangend kan skryf nie, verdien jy wat jy kry. Ek verstaan dat ouers nie altyd met skoolwerk kan help nie, en ek verstaan dat onderwysers soms met die hande in die hare sit. Ek verstaan dat hulle hulp nodig het. Ons werk tans by VivA aan Taalonderrigportaal, waar ons geverifieerde, gehalteversekerde en gratis inligting oor Afrikaansgrammatika gaan plaas sodat gebruikers ʼn betroubare bron het waarin hulle kan gaan naslaan. (Die eerste afdeling behoort vroeg in 2019 beskikbaar te wees; hou ons Facebookblad dop.) Ons probeer dus om in hierdie behoefte te voorsien. Ongelukkig neem dit tyd en is die leemtes in ondersteuning aan onderwysers enorm. Kry dus intussen hulp indien jy dit nodig het, maar maak seker jy word nie van die wal in die sloot gehelp nie.

Ma’s kom klop gereeld by Mogol Pos aan om inligting te kry oor sake soos besoedeling, vloede, ensovoorts. Ons help waar ons kan, want die koerant is ʼn groot bron van inligting. Maar die leerder (of dalk die ma) moet self die taak binne die verlangde raamwerk doen want Mogol Pos se personeel is klaar met skool.

Hoe beleef onderwysers dit as hulle take (sonder spelfoute) lees en die taalgebruik is ver bo die graadvlak? Is dit lekker vir onderwysers om te luister na praatjie na praatjie geskryf deur grootmense?

Mogol Pos sal insette vanaf skoolhoofde, onderwysers, kinders en ouers waardeer want ʼn debat hieroor kan baie interessant wees. Stuur gerus jou insette na sub@mogolpos.co.za of editorial@mogolpos.co.za.

*Sophia Kapp is ʼn bekende romanskrywer en taaladviseur by die Virtuele instituut vir Afrikaans (VivA). Haar jongste roman, Kantelpunt, veroorsaak heelwat roeringe onder haar aanhangers omdat dit heelwat verskil van haar vorige boeke.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.