‘n Pad vol slaggate

Beste redakteur
Hoe ry jy op ‘n pad vol slaggate? Kom ek sê jou. Baie versigtig of jy vermy die pad as jy kan.
Dieselfde geld vir ‘n spoedhobbel wat jou kar karnuffel.
Nadat ek by mnr. Google gaan kuier het, het ek die volgende wysgeraak:
• die spoedhobbels in Lephalale is te kort, daarom stamp langer voertuie teen die hobbel as daaroor gery word. Veral as die voertuig so bietjie vinnig oor die hobbel gaan;
• alhoewel die hobbels nie volgens spesifikasie aangebring is nie, werk dit tog. As jy jaag, gaan jy dit aan jou sak voel.
Sal dit nie wonderlik wees as die owerheid spoedhobbels by die Matimba- en Medupi-interseksie kan aanbring nie. Die stoptekens by genoemde interseksies het skynbaar geen betekenis vir sommige motoriste nie. Ek sien ook nooit enige wetstoepassers daar aan diens nie.
Ek nooi almal uit – gaan ry in die Overbergdistrik in die Weskaap.
Daar is geen spoedhobbels nie, maar regte, egte, toegewyde verkeersbeamptes aan diens. En sigbaar. As jy daar buite jou baantjie beweeg voel jy dit aan jou sak.

— Groetnis
Jan Erasmus

(Dankie Jan, ek het hierdie week verskeie oproepe gehad na aanleiding van verlede week se berig oor die spoedhobbels. Ek het ook op ‘n webtuiste afgekom wat die spesifikasies baie duidelik stel. Ek beoog om die spoedhobbels-kwessie binekort op te volg. En betreffende die Overberg – behalwe vir die verkeerbeheer is die paaie skoon en in ‘n baie goeie toestand – nie eers een slaggat gesien nie – Red.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.