100% inspirasie

DSCF3576

Leoni Kruger
LEPHALALE — Tinus Bower is in Augustusmaand 2015 in Mediclinic Lephalale opgeneem met ernstige hartversaking. Mogol Pos het 27 November verlede jaar berig oor sy merkwaardige gewigsverlies en hoe vet letterlik sy lewe gesteel het. Hy het 90 kg verloor vanaf Augustus tot einde November 2015.
Mogol Pos het verlede week weer met hom gesels om te hoor hoe dit met hom gaan en of hy steeds so gedissiplineerd volhou met sy gesonde eetplan – die verrassing was baie aangenaam – Tinus het vanaf November verlede jaar tot op hede nog ‘n volle 50 kg verloor!
Tinus en sy hele gesin volg tans die 28-dae eetplan wat blykbaar baie goeie resultate oplewer. Hy sê dit is ‘n baie gebalanseerde eetplan wat alle voedselgroepe insluit.
Sy sus het reeds 8 kg verloor en sy pa het 10 kg verloor, maar hy wat Tinus is weeg eers weer 1 Julie. Hy het begin met “cross fit”-oefeninge by SrixZone Health and Fitness gimnasium, waar hy ook deur ‘n persoonlike afrigter bygestaan word.
Tinus sê hy oefen steeds elke dag en as sy dag te vol is en hy kan nie by die gimnasium uitkom nie, dan oefen hy by die huis.
“Ek voel gesond, sterk en energiek en gebruik glad nie meer enige medikasie nie. Ek dink daar is min mense wat so groot is soos ek wat dieselfde energievlakke het as ek” sê Tinus.
Op die vraag wat vir hom die heel lekkerste is van sy nuwe lyf en lewe antwoord hy sonder om te skroom dat sy dogtertjie sy hele lewe is. “My grootse plesier is dat ek saam met my kind dinge kan doen. Ek kan saam met haar speel. Ek kan weer deelneem aan familie en vriende se aktiwiteite” vertel hy verder.
Tinus is so doelgerig om nie sy eie eetreëls te oortree nie, dat hy soms saam met vriende kuier en braai, maar hy eet nie saam aan die lekker tjoppie nie, want hy eet niks na 17:00 in die middag nie.
Wat Tinus die meeste waardeer is die feit dat almal by die werk en by die huis hom ten volle ondersteun. “Almal is nou op die 28-dae dieet en probeer reg eet. Dit inspireer my net nog meer om die regte ding te doen – vir myself en vir my kind” sê hy.
Tinus meen hy het ‘n tweede kans in die lewe gekry en daarom wil hy graag vir ander ook iets beteken. “As daar iemand is wat ek kan help op die pad na gewigsverlies en hoe dit jou lewe in alle opsigte raak, moet hulle asseblief die vrymoedigheid hê om met my kontak te maak” versoek Tinus.
Tinus het nog 45 kg om te verloor om sy doelgewig te bereik. Skakel hom by 060 723 8562 vir inspirasie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.