100 jaar oud!

LEPHALALE — Sophia Cornelia Gericke, gebore Schoonwinkel of beter bekend as tannie Sophie, het Vrydag 1 Junie haar 100ste verjaardag gevier. Sy bly by haar dogter Sannie en skoonseun Giepie Prinsloo in Onverwacht.

Vier geslagte bymekaar: Sannie, haar dogter Sanelia en háár dogter Leathi saam met tannie Sophie

Ds Bernard Prinsloo van die Hervormde Kerk Onverwacht het Vrydag ʼn spesiale tuisbesoek aan tannie Sophie gebring, ʼn kort kerkdiens gehou en aan haar nagmaal bedien. Sy het glo vir hom voorgesê uit watter Bybelboek en vers hy vir haar moet lees en het selfs “Prys die Heer” lustig saam gesing. “Onthou nog elke woord,” sê Sannie.

Tannie Sophie is in Kroonstad gebore en later in Randfontein getroud met Hendrik Gericke en vyf kinders is uit die huwelik gebore. Hy het haar in 1980 ontval en sy woon reeds vir die afgelope twintig jaar by Sannie en Giepie.

Met Mogol Pos se besoek aan haar was haar dankbaarheid onmiskenbaar en sy skryf haar hoë ouderdom toe aan God se goedheid. Tannie Sophie het kort-kort gesê dat ʼn mens hulp aan jou medemens moet verleen want “jy kry dit dubbel terug”. Selfs haar pittigheid was opmerksaam en sy het tydens die kuiertjie heelwat gelag en soms trane van dankbaarheid afgevee.

In haar jongdae was sy hardwerkend en sy vertel hoe sy saam met haar pa in die landerye gewerk het. Sy was ook in vele opsigte baie aktief betrokke by die gemeenskap. Skole, kerke, noem maar op, Sophie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. En op hierdie hoë ouderdom “drink sy nie ʼn enkele pil nie,” sê Sannie. Sy sê dit is ʼn ongelooflike groot voorreg om haar ma by haar in die huis te hê en te versorg. “Sy is ʼn dierbare mens en altyd dankbaar”.

Alhoewel tannie Sophie in ʼn rystoel is, is sy nog jonk van gees en het selfs toegelaat dat die kleinkinders haar met haar verjaardag op die springkasteel sit terwyl hulle rondom haar spring.

Sy het haar dank uitgespreek teenoor Sannie en Giepie en dit weer eens beklemtoon dat God aan hulle die krag gee om haar te versorg. Sy het almal bedank wat vir haar omgee. Sophie is nie ʼn ou mens wat hulle wegsteek in die kamer nie, néé, ʼn dierbare moeder wat hulle met groot liefde en respek toelaat in hulle midde.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.