143 beeste geskut — poging tot grondgrype?

VAALWATER — Lede van die Vaalwater, Lephalale, Modimolle en Matlabas landelike gemeenskap, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Modimolle en Vaalwater, lede van AfriForum en ander rolspelers het Donderdag 7 Maart in groot getalle op ʼn plaas naby Vaalwater opgedaag om 143 beeste te skut.

Helpers is besig om die beeste op die trok te laai

Volgens Christo Venter, voorsitter van die GPF in Modimolle en Vaalwater het ʼn Kelvin Masipa by die plaas opgedaag, die slot en kettings van die hek geknip en sy beeste daar ingejaag. “Hy het ook met een of ander dokument daar opgedaag wat lees dat die grond nou syne is,” sê Christo.

Die boer wat die plaas huur by die eienaar, Nelia Kuys, het Kelvin by die polisie gaan aangee vir onder andere betreding.

Die slotte en hekkettings is vervang en teen Woensdag 6 Maart het Masipa die plaas na bewering vir ʼn tweede keer sonder toestemming betree.

Rolspelers is bymekaargeroep en ʼn helikopter is Donderdag van vroegoggend af ingespan om die beeste bymekaar te kry.

ʼn Diereskut van Mokopane is ontbied en vragmotors is gereël om die beeste op te laai en na die DBV in Mokopane te neem waar hulle veilig sou wees.

Gemeenskapslede het oral ingespring en gehelp waar dit nodig was en ʼn gemoedelike stemming het geheers tydens die oplaai van die beeste. Daar was ʼn dringende versoek aan almal teenwoordig gerig dat geen geweld of aanhitsing of enige optrede wat buite orde is geduld sal word nie.

Teen laatoggend het ʼn vriendin van Masipa, Lebogang Mokonyane, by die plaas opgedaag en beweer dat sy deur Masipa versoek is om die situasie te monitor terwyl hy blykbaar ʼn vergadering in Polokwane bygewoon het.

Die trokke met beeste het teen ongeveer 14:00 die lang pad na Mokopane aangedurf waar hulle in die skut gehou sou word tot verdere stappe geneem word.

Mogol Pos het Dinsdag 12 Maart van Venter verneem dat Masipa se familie hom gehelp het om die beeste by die skut te gaan haal. Dit het hulle na beraming R115 000 gekos om die beeste terug te kry.

Masipa het Woensdag 13 Maart in die Landdroshof in Vaalwater verskyn op twee aanklagte van betreding. Hy was verlede week deur die polisie in Vaalwater gearresteer, maar is op waarskuwing vrygelaat.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se assistentveiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, sê daar is ʼn baie sterk vermoede dat baie van die beeste gesteel is en Mogol Pos het inligting ontvang dat ʼn boer van Alma reeds van sy beeste wat vroeër gesteel is, gaan uitken het.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê hulle beskou Masipa se gedrag as ’n kreatiewe poging tot grondgrype.

Die uitslag van Masipa se hofverskyning was teen druktyd nog onbekend.

Kuys bedank ieder en elk wat opgedaag het om te help tydens die skuif van die beeste en vir die wye ondersteuning.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.