18 messteke en baie trauma

Marius in die hospitaal ná die aanval

LEPHALALE — Die 32-jarige Marius Horn is in die oggendure van Sondag 7 Januarie in sy huis in Ermelo aangehou en aangeval. Horn het in Ellisras/Lephalale skoolgegaan en gewerk totdat hy vyf jaar gelede verhuis het.
Marius sê hy het laat die aand na die winkel by ʼn vulstasie gery om sigarette, melk en koeldrank te gaan koop. Toe hy by sy huis stop het twee mans hom op die trappe op pad na die voordeur oorval. “Die een man het my gegryp en vasgehou en die ander een het my geslaan. Hulle het die hele tyd gevra waar is die kluis want hulle soek geld en gewere,” sê hy.
Volgens Marius het die twee mans hom vir ure lank vasgedruk en hom met ʼn mes gesteek. Hy het 18 meswonde in sy nek, kop en bolyf. Hy is so hard met ʼn houtstomp oor die kop geslaan dat die stomp in twee gebreek het. Marius sê hulle wou hom nie glo dat hy nie ʼn kluis met geld en wapens het nie, maar het later sy TV-stel, horlosie, selfoon en allerlei elektroniese toerusting gevat en met sy maatskappymotor op die vlug geslaan.
“Hulle het my eers op die bed neergegooi en my met die beddegoed toegegooi. Ek dink hulle het my vir dood agtergelaat. My arms en voete was vasgebind, maar ek kon gelukkig my regterhand loswikkel en die paniekknoppie druk,” sê Marius.
Hy praat met groot lof van die sekuriteitsmaatskappy wat binne enkele minute by die toneel opgedaag en dadelik ʼn ambulans ontbied het. Hy sê die sekuriteitsmense kon sy selfoon se ligging vasstel, maar teen die tyd dat die polisie by die toneel opgedaag het, het die verdagtes reeds die foon se simkaart verwyder.
Volgens hom het hulle die voertuig deur middel van ʼn voertuigopsporingstelsel naby die huis opgespoor, maar die verdagtes het genoeg tyd gehad om te vlug. Daar word vermoed dat die verdagtes op pad terug was na sy huis omdat die voertuigopsporingstelsel gewys het dat die voertuig omgedraai en naby sy huis gevind is.
Teen druktyd was Marius steeds in Lephalale besig om aan te sterk by sy familie. Die trauma nog vars in sy geheue.
‘n Saak is by Ermelo SAPD geopen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.