2½ + jaar later en moordenaar steeds vry

LEPHALALE — Moniqu eBarnard het in die vroeë oggendure van 7 April 2016 van haar en haar vriend se huis in Kameeldoringstraat weggeloop.

Daar was verskeie bewerings oor waarheen sy was en wat van haar geword het. Haar vriend was op daardie stadium die hoofverdagte. Tog het ander name mettertyd na vore gekom, maar haar verdwyning was steeds ’n raaisel.

Haar selfoon was af, niemand het geweet wat van haar geword het nie.

Op 6 Mei 2016 word die erg ontbinde lyk van ’n vrou in ’n stormwatersloot by die Deelkraalgrondpad gekry en die polisie bevestig dat DNS-toetse bewys het dat dit wel Monique se liggaam is.

’n Maand het verloop vandat sy weggeraak het totdat haar liggaam gevind is. Dit is twee en ’n half jaar later en haar moordenaar loop vry rond en gaan aan met sy lewe.

Die polisie het wel vroeër vanjaar gedink hulle het ’n deurbraak gemaak toe ’n man uit die bloute vir haar moord in hegtenis geneem was. Mogol Pos was in die hof met sy eerste hofverskyning en dit was toé reeds duidelik dat, alhoewel die polisie en lede van HPG redelik seker was dat hy skuldig is, daar nie genoeg bewyse gelewer kon word nie.

Daar is in die hof ter versagting aangevoer dat sy vrou ver swanger is en dit was een van die redes waarom hy borg toegestaan is en die saak uitgestel is.

Is daar genoeg gedoen om sy skuld te bewys? Hy kry borg omdat sy vrou swanger is, maar êrens is ’n familie wie se harte stukkend is oor die onsekerheid romdom ’n geliefde se dood.

Met sy tweede hofverskyning was hy vlugtig in die hof voordat hy vrygelaat is op grond van onvoldoende bewyse. Die tyd was aan sy kant …

Volgens die polisie is hulle seker daarvan dat hy steeds iets wegsteek en ’n poligraaftoets het aangedui dat hy nie noodwendig oop kaarte speel nie.

Kollegas wat op daardie stadium saam met hom gewerk het by ’n kontrakteursmaatskappy op Medupi, het gesê hy het die oggend van 7 April 2016 by die werk aangekom met ’n deurtrekker van Monique en gespog oor die lekker aand wat hy gehad het.

Tog, daar het soveel tyd verloop dat daardie getuienis ook nie meer water dra nie.

Intussen sukkel haar ma, Louise Loubser, om aan te gaan met haar lewe sonder Monique.

Dit was haar jongste dogter, en sy weet nie wat haar kind in haar laaste ure op aarde deurgemaak het nie. Sy weet nie wie haar kind langs die pad in ’n stormwatersloot afgegooi het nie.
Kortom, Louise rou elke dag sonder ophou. Sy het geen berusting nie. Sy kan nie aangaan met haar lewe as sy nie weet wat met haar kind gebeur het nie.

Kan iemand twee en ’n half jaar met so ’n geheim rondloop sonder om na vore te kom?

Die polisie en HPG doen weer eens ’n beroep op enigiemand wat enigiets weet van wat daardie aand of die maand daarna gebeur het om met hulle in verbinding te tree.

Skakel Sakkie Louwrens by 071 798 7954 vir meer inligting of om inligting te verskaf.

One Comment on “2½ + jaar later en moordenaar steeds vry”

  1. Weereens baie dankie Leoni. Mag hierdie gereelde berigte van jou uiteindelik iemand se gewete aanspreek en daar geregtigheid vir Monique geskied. My pragtige kind verdien dit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.