2 dae, 2 aanvalle

Leoni Kruger
MOOKGOPHONG/MUSINA — Sondag-middag 24 April omstreeks 17:15 is ‘n kaping van ‘n wit Toyota Fortuner met ‘n Toyota Naboom-plakker agterop by die GPF gerapporteer.
Die voertuig is kort daarna gevind en dit is bevestig dat twee verdagtes te voet verder gevlug het. Spore is in die Melkrivier-area gevind.
Verdere inligting bevestig dat die verdagtes wat die voertuig gesteel het, betrokke was by ‘n plaasaanval in die Melkrivier-omgewing. ‘n Bejaarde egpaar is op hulle plaas oorval en met ‘n handwapen aangehou nadat van die plaaswerkers in ‘n nabygeleë huis vermoedelik oorval en buite aksie gestel is.
Volgens Thys Eloff, voorsitter van die GPF in Lephalale, is daar sowat R700 kontant, 300 Euros en ‘n wapen gesteel.
Die verdagtes het vermoedelik met die Toyota Fortuner probeer vlug, maar hulle kon nie die hek oopkry nie. Hulle het die voertuig daar gelos en per voet gevlug.
Eloff sê volgens inligting was twee van die verdagtes Afrikaans goed magtig en die ander een kon nie Afrikaans praat nie.
Teen druktyd is niemand nog in verband met die voorval gearresteer nie.
In nóg ‘n plaasaanval-voorval is ‘n 72-jarige man Maandagoggend omstreeks 06:00 op sy plaas in die Musina-omgewing langs Venitiastraat deur vier verdagtes oorval en met ‘n wapen aangehou. Volgens lt. kol. Ledwaba, waarnemende SAPD Limpopo woordvoerder, het die verdagtes vuurwapens geëis en die plaaseienaar het vir hulle die kluis se sleutels gegee. Daar word verder beweer dat die verdagtes twee vuurwapens in die kluis gekry het, maar meer wapens geëis het. Toe hulle boonop hoor dat daar nie geld is nie, het hulle na bewering skote in die rigting van die plaaseienaar geskiet. Hy is in sy linkerarm en voorkop gewond. Volgens lt. kol. Ledwaba het die man vermoedelik daarin geslaag om ook skote af te vuur en een van die verdagtes is noodlottig gewond.
Die drie ander verdagtes het gevlug en op pad uit het hulle blykbaar in die plaaseienaar se seun vasgeloop. Hulle het hom vasgebind.
Die polisie het dadelik ‘n ondersoek begin en een van die verdagtes is gevind met ‘n wond in sy heup.
Die plaaseienaar en die beseerde verdagte is in ‘n hospitaal opgeneem vir mediese sorg. ‘n Ondersoek na die oorblywende twee verdagtes is steeds aan die gang en die polisie versoek enigeen met enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die ander twee verdagtes, om die naaste polisiestasie te skakel.
‘n Saak van poging tot moord en gewapende roof is geregistreer en dit word verder ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.