2 vas na koper in bos versteek

LEPHALALE — Twee verdagtes is Woensdag 27 Maart omstreeks 10:24 gearresteer nadat sekuriteitsbeamptes van Exxaro tydens ʼn roetine-parollie op gesteelde koperdraad afgekom het.

Die 2 verdagtes

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Klusterwoordvoerder, is die koper gesteel by substasie 3 net buite Exxaromyn.

Die sekuriteitsbeamptes het die area gepatrolleer toe hulle ʼn 60 kg-bondel koperkabel, met ʼn geraamde waarde van R35 000, opmerk wat in die bosse versteek is. Hulle het die kabelbondel ʼn ent verder onder die bosse ingeskuif en daar vir die verdagtes gewag om dit op te laai.

ʼn Wit Toyota Corolla met registrasienommer KJH 024 GP is later opgemerk. ʼn Man het die kar bestuur met ʼn vrou as passasier. Hulle het begin rondkyk waar hulle die koperkabel versteek het, waarop die sekuriteitsbeamptes hulle genader en vir hulle gewys het waar die kabel is. Die twee het toe erken dat hulle die kabel daar versteek het.

Gras in die Toyota se bagasieruim het die vermoede bevestig dat die gesteelde kabel daarin vervoer is tot by die wegsteekplek. Die sekuriteitsbeamptes het toe voorgegee dat hulle belangstel om die geld te deel nadat die gesteelde kabel verkoop is, maar intussen het hulle die toesighouer en die bestuurder geskakel.

Die twee verdagtes is na Lephalale Polisie geneem en ʼn saak vir koperdiefstal is geopen.

Hulle het Maandag 1 April in die Landdroshof in Lephalale verskyn. Die polisie kon teen druktyd nie die uitslag van die hofverskyning bevestig nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.