2 verdagtes gekiek

Leoni Kruger
LEPHALALE — Twee verdagte mans is verlede Woensdag 1 Februarie deur kringtelevisiekameras afgeneem waar hulle in die vroeë oggendure voor Sandpatrys Gastehuis geloop het.
Daar is ook in dié tyd by die gastehuis ingebreek en twee drade van die elektriese omheining is geknip. Die tyd wanneer die verdagtes afgeneem is, is tussen 01:00 en 03:00 in die oggend.
Op Donderdag 2 Februarie is dieselfde mans weer deur kringtelevisiekameras afgeneem om 01:46. Dié keer is dit duidelik dat die een verdagte ‘n vuurwapen by hom het.
‘n Gewapende roof in Gruisweg in Onverwacht is die volgende dag aangemeld en ‘n sekuriteitswag is in die proses raakgeskiet.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale SAPD woordvoerder, het die verdagtes die perseel betree waarna hulle deur die sekuriteitswag gesien is. Mokoena sê hy het nadergestap na die verdagtes en hulle het hom beveel om te gaan lê. Hy het nie gaan lê nie en een van die verdagtes het hom geskiet.
Lede van die Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het nog voorvalle in Skurwerand- en Krulblaarstraat in Onverwacht aangemeld.
Die GPF waarsku die gemeenskap om bedag te wees daarop dat dié twee mans tans in die omgewing bedrywig is en dat die een man definitief gewapen is. Die ander man dra ‘n rugsak en dit is nie duidelik of hy dalk ook gewapen is nie.
“Wees uiters waaksaam, veral tussen 00:00 en 03:00 in die oggend” waarsku die GPF.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.