2 vriende vas vir huisbraak

LEPHALALE — Wynand Steyn (31) en Johan van Eeden (32) het verlede week in die Landdroshof in Lephalale verskyn op aanklagte van huisbrake en diefstal.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Polisie Klusterwoordvoerder, is gesteelde goedere op die Wonderboomhoekplotte gekry waar beide Steyn en Van Eeden na bewering woon.

Steyn het Van Eeden na bewering beskuldig dat hy koperkabels gesteel het. Tydens ondervraging het Van Eeden beweer dat Steyn ook skuldig is aan huisbraak en diefstal. Die polisie is toe na die plot waar hulle woon om Steyn te ondervra. Met die polisie se aankoms by die plot kom hulle af op verskeie gesteelde goedere wat tydens inbrake by onder andere die industriële gebied gesteel is.

Daar is ook beslag gelê op goedere wat vroeër tydens ’n inbraak by D’Nyala se store gesteel is, waaronder ’n Venter-sleepwa, rolle draad en ’n vuurvegter.

Daar is ook beslag gelë op sonpanele, batterye en ’n beheereenheid wat vroeër na bewering deur Steyn by die asgate gesteel is.

Die saak is uitgestel na Donderdag 6 Februarie vir borgaansoeke. Teen druktyd was die uitslag van die borgaansoeke nog nie bekend nie.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.