2020-matrieks neem tóg afskeid

LEPHALALE — Die 2020-matriekklas van Hoërskool Ellisras het Donderdagaand 15 Oktober hulle matriekafskeid by die skool gehou.

Soos elke jaar was die “rooi tapyt” opkoms, waar elke leerder met sy/haar pragtige uitrusting kon spog, ’n hoogtepunt.

As gevolg daarvan dat die land steeds in Vlak 1 van inperking is weens die COVID-19-pandemie, was die breë publiek nie vanjaar na die geleentheid uitgenooi nie. Slegs ouers en naaste familie was toegelaat.

Theunes van Staden en sy span het die haas in ʼn rekordtyd uit die hoed geruk en begin reël aan die geleentheid met die tema “Hollywood”.

Die leerders het geskitter in asemrowende uitrustings.

JP van Staden (hoofseun 2020) en Murangi Sithari (hoofdogter 2020) het almal wat betrokke was by die reël van die afskeid en sodoende die matriekklas se drome bewaarheid het, van harte bedank. Hulle het ook die personeel bedank vir al die jare wat daar intensief aan hulle opvoeding spandeer is.

Volgens die onderwysers is vanjaar se matriekgroep ʼn besondere groep jongmense wat bevoorreg is om ondersteuning en motivering van hulle ouers af te ontvang.

Van die ouers het spesiaal van Botswana af gery om hulle kinders te ondersteun (hulle moes vir twee weke op ʼn slag in kwarantyn wees – in Botswana en in Suid-Afrika – om hulle kinders te kon sien). Van die leerders het gesê hulle het hulle pa’s ses maande gelede vir die laaste keer gesien.

Met die aankondiging van die paartjies tydens die opkoms is genoem wat die leerders beplan om volgende jaar te doen. Behalwe vir dié wat die jaar eers “kalm gaan vat”, is daar voornemende aktuarisse, forensiese wiskundiges, fisioterapeute en rekeningkundiges.

“Die matriekafskeid was vir ons ʼn droom wat waar geword het, ons het nie gedink dat dit ons vanjaar beskore sou wees nie,” sê die matriekleerders.

“Mag al julle toekomsdrome waar word en mag die eindeksamen suksesvol wees,” sê die onderwysers op hulle beurt aan die matrieks.

— Fransa de Beer

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.