Inwoners word gemaan om ten alle tye paraat te wees aangesien huisbrake toeneem.

Dit kom voor asof ervare inbrekers een spesifieke gebied teiken en hard daar toeslaan waarna die fokus dan na ʼn ander gebied skuif. Tans is inbrekers bedrywig in die omgewing van Maroelasingel, Mongoose en Naboomstraat in Onverwacht.

Daar word ingebreek wanneer niemand tuis is nie, maar ook gedurende die nag tussen 12:00 en 04:00 terwyl mense by die huis is. In meeste gevalle word toegang verkry deur diefwering uit te breek met ʼn bobbejaansleutel. In een geval is toegang wel deur die dak verkry en is die alarmstelsel se bedrading in die dak uitgeruk.

Diewe hou gewoonlik ʼn plek vir ʼn paar dae dop voordat hulle inbreek.

Daar is die afgelope ruk onder andere ook by Telkom se werkswinkel in Oberholzerstraat ingebreek en heelwat toerusting is gebuit, maar selfs lugversorgers, koperpype en krane is uitgebreek.

Die voorsitter van Lephalale se gemeenskapspolisiëring (GPF), Guy Emslie sê dat werkloosheid waarskynlik tot die styging in geleentheidsmisdade aanleiding gee. Hy is ook van mening dat ʼn georganiseerde groep in Lephalale bedrywig is aangesien videomateriaal wys dat dit bedrewe inbrekers is wat maklik oor selfs lemmetjiesdraad toegang tot erwe verkry. Dieselfde modus operandi is in verskeie van die inbrake gevolg.

Guy sê volgens Waterbergarea se statistieke vind aanvalle en inbrake in dorpsgebied en op plase meesal tussen 24:00 en 09:00 die oggend plaas.

Mense moet besef dat Lephalale nie meer ʼn afgeleë plek is nie. Gesteelde goedere word waarskynlik nie in Lephalale verkoop nie aangesien dit nie aan die tweedehandse winkels verkoop word nie.

Johan Cowan, woordvoerder van die GPF, sê waardevolle items en alle soorte elektroniese ware word gesteel. Kleiner elektroniese toerusting soos geheuestokkies, kabels, laaiers en verwyderbare hardeskywe word ook gebuit. Waardevolle draagbare items soos kameras behoort weggesteek te word as daar niemand by die huis is nie. Kontant en vuurwapens is ʼn bonus vir inbrekers en moet beveilig word!

As mense iets vreemds opmerk moet hulle dit asseblief rapporteer. Meld ook diefstalgevalle aan want dit help om die probleemareas te identifiseer. Guy sê mense kan hom enige tyd skakel by 079 514 7061. Hy is ook die voorsitter van Landelike Veiligheid in die streek. Johan Cowan kan geskakel word by 073 209 0056.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.