20ste Vuurwapenfees lê voor

LEPHALALE — Die jaarlikse Vuurwapenfees word Saterdag 26 Augustus by die Knapskoot-skietbaan gehou vir alle vuurwapenentoesiaste – oud, jonk, ervare of onervare. Maak seker jy loop dit vanjaar nie mis nie.
Die Vuurwapenfees word geopen met ‘n skoot deur “Ou Grietjie”, die voorlaaierkanon uit die Slag van Bloedrivier. As “Ou Grietjie” haar skoot geskiet het, is al die ander bane amptelik oop vir skiet.
Die onderskeie bane is:
• Pro-Amm-groeperingskiet:
Skuts skiet op hierdie baan met hul eie gewere vir die kleinste groepering. Ammunisie word deur PMP voorsien. Skuts kan met enige van die algemene PMP- vervaardigde kalibers meeding.
Die Pro-Amm is die hoofitem by die fees en baie gewild – daar word gewoonlik sowat 1 000 teikens op dié dag geskiet.
Jannie Pretorius is in beheer van dié baan – soos by die eerste fees in 1997.
• Big Bore-baan:
‘n Jagsimulasiebaan word met grootkalibergewere geskiet. Enige kaliber vanaf 9.3 mm en groter kan gebruik word. Skuts neem hul eie wapen en ammunisie saam.
‘n Aantreklike jagpakket as prys is op die spel.
• Junior opleiding:
Herman de Lange en sy span van die SA Jagtersvereniging lei kinders op in veilige – en akkurate wapengebruik. Skuts onder 16 is welkom. Wapens en ammunisie word op die baan voorsien.
Herman is reeds die volle 20 jaar by die Vuurwapenfees betrokke.
• Handwapenbaan:
Craig Gadd en sy span is hier in beheer van skuts wat ‘n selfverdedigingsbaan met eie handwapen en ammunisie skiet. As jy ‘n handwapen het en nie heeltemal seker is hoe om dit te hanteer nie, vra vir Craig. As jy ‘n handwapen het en dink jy weet hoe om dit te hanteer, gaan toets gerus jou vernuf op Craig se baan.
• Kleipieringskiet:
‘n Tradisionele haelgeweeritem waar daar na vlieënde pierings geskiet word. Pierings en patrone word voorsien. As jy nie ‘n 12 boor-haelgeweer het nie is daar ook ‘n leengeweer beskikbaar.
• CHASA-jagbaan:
Daar is vanjaar vir die eerste keer ook ‘n jagsimulasie vir kleiner kalibers. Al die skuts wat in die verlede nie op die Big Bore-baan kon deelneem nie, kry nou ‘n kans. Skuts moet eie wapen en ammunisie saamneem – enige senterslagkaliber. Tien skote word geskiet.
‘n Jagpakket is te wen.
• Aktiewe jagbaan:
Op hierdie jagbaan word ‘n jagsimulasie met .22-gewere geskiet. Hanne Hurst is, soos die laaste tien jaar, in beheer van die baan. Ammunisie word voorsien en skuts kan hul eie wapen of leenwapen gebruik.
• Boer en Brit-skiet:
Die laaste item van die dag is ‘n aanskoulike, aksiebelaaide item waar Boer en Brit mekaar die stryd aansê. Spanne van vier neem in drie kategorieë deel, naamlik die Anglo-Boereoorlog – oop visier en handlaaiaksie; Wêreldoorlog – handaksie en teleskope toegelaat en Grensoorlog – enige aksie, enige visiere.
Die dag word afgesluit met ‘n prysuitdeling en heerlike wildsvleisete onder en langs die afdak.
Padaanwysings: volg die Steenbokpanpad verby Medupi. 18 km na Medupi se hek is daar ‘n bordjie “Knapskoot Skietbaan “wat na regs wys. Gaan deur die hek en volg die paadjie (5 km) tot by die skietbaan.
Skakel dr Willie Barnard by 014 763 6403 of 083 292 5419 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.