29 diere gesteriliseer

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Totaal van 29 diere wat deur die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Lephalale gehuisves was, maar reeds deur die publiek aangeneem is, is Donderdag 8 Junie by die DBV gesteriliseer. Hierdie sterilisasie is moontlik gemaak deur dr Renee van Rheede van Oudtshoorn van die Community Veterinary Services South Africa (CVSSA) wat die sterilisasies gratis gedoen het. CVSSA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat behoeftige diere kosteloos steriliseer.
Waarom is dit so belangrik om jou diere te laat steriliseer?
Volgens Erika Tempel, diereliefhebber en bestuurslid van Lephalale DBV, kan een teefhond wat nie gesteriliseer is nie, 67 000 klein hondjies in net ses jaar lewer. Die vraag is wie gaan vir hierdie hondjies sorg? “Dit is juis daarom dat die DBV so hard probeer om die noodsaaklikheid van sterilasies onder die publiek se aandag te bring” sê sy.
Sy sê voorts dat sterilisasie ook gesondheids- en gedragsvoordele inhou. “’n Gesteriliseerde hond se lewensverwagting kan met tot 23% styg. Gesteriliseerde diere is gewoonlik huisvas, minder aggressief en hulle blaf gewoonlik ook minder. Dit beteken boonop dat jy lewens spaar deur die geboortes van ongewenste diere te voorkom en daardeur help jy ook om die hokke van die DBV leër te hou” sê Erika.
Erika sê die personeel van die DBV is al in ‘n roetine om dr Renee op dié dae by te staan en hulle is baie dankbaar teenoor al die mense wat op hierdie dae ‘n bydrae maak.
“Ons waardeer elke donasie vanaf die publiek – groot of klein. Die DBV is 100% afhanklik van die goedhartigheid van die publiek om hierdie diens te kan lewer en die deure oop te hou. Ons kan dit nie sonder hulle doen nie. Lephalale DBV is die enigste DBV in ‘n 300 km radius en personeel bewerkstellig daagliks wonderwerke met dit tot ons beskikking” sê Erika.
Die DBV nooi maatskappye uit om spanbouaktiwiteite by hulle aan te pak en skenkings te maak. Lephalale DBV het ‘n PBO-nommer en kan ‘n belastingsertifikaat aan maatskappye uitreik. Dit hou ook bemarkingsgeleenthede in.
Lephalale DBV se volgende uitreik is 8-10 Junie in Seleka. Skakel Erika Tempel by 083 375 7813 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.