3 dames vir Groenewalds

Lu-Marie (1.28 kg), Lu-Cherie (1.45 kg) en Lu-Chanè (1.6 kg)

Leoni Kruger
LEPHALALE — LJ en Christa Groenewald van Lephalale het Donderdag 6 April om 06:00 die trotse ouers geword van ‘n drieling.
Dié spannetjie dogtertjies is in Die Wilgers Hospitaal in Pretoria op 32 weke deur middel van ‘n keisersnee in die wêreld gebring.
Volgens Chris Loretz, Christa se pa en ‘n baie trotse oupa, is Christa Dinsdag 18 April ontslaan, maar sy bly eers in Pretoria aan om by haar dogtertjies te wees en sodat hulle soveel al moontlik borsmelk kan kry.
Die drie jonge dames is Saterdag 15 April reeds van suurstof afgehaal en van toe af haal hulle self asem. “Die dokter het egter gesê hulle kan nie ontslaan word voordat elkeen nie minstens 2 kg weeg nie.
Christa sê hulle geval is heel uniek aangesien sy swanger geraak het met ‘n drieling sonder enige vrugbaarheidsbehandelings of inplantings. Aangesien daar net een plasenta was, beteken dit hierdie drie is ‘n identiese drieling!
Die Groenewald-familie bedank almal vir hulle ondersteuning, bydraes en boodskappe – vanoor die wêreld.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.