3 is beter as 1

Leoni Kruger
BEAUTY — Toe Leanie Venter van die plaas Ongerep in die Beauty-omgewing die nuus kry dat sy en MC ‘n drieling verwag was groot opgewondenheid die enigste gevoel in haar hart. “Ek kon nie ophou glimlag nie” sê sy.
MC (2 kg), Jodrié (1.2 kg) en Marnié (1.68 kg) is op 13 Oktober 2016 in die Wilgers hospitaal in Pretoria gebore en alhoewel daar geen komplikasies tydens of na die geboorte was nie, moes hulle in die hospitaal se neonatale intensiewe sorgeenheid bly totdat elkeen van hulle 2 kg geweeg het, hulle eie liggaamstemperatuur kon reguleer en self uit ‘n bottel kon drink. Na vyf weke en drie dae kon MC en Leanie uiteindelik hulle kosbare drie Bosveld toe bring.
Leanie sê die grootste aanpassing vir haar is om minder te slaap. “Ek het van my slaap gehou en moes aanpas met die voedings om wakker te word as hulle wou drink” sê sy.
Leanie het nie meer ‘n beroep sedert hulle geboorte nie, sy is nou net Ma en spandeer al haar aandag aan die kinders, maar sy sê MC help haar baie as hy by die huis is. Hy is nie bang om doeke te ruil of babas te bad nie.
Vanaf 16:00 is dit ‘n hele bedrywigheid in die Venter-huis. Die driestuks is wakker en moet gebad word. Daarna is dit voedings- en slaaptyd en voedings- en slaaptyd…
Leanie is gedurende die week op dag- en nagdiens omdat MC moet werk, maar naweke help hy haar.
Die koms van die drie het definitief hulle lewens op verskeie vlakke verryk. MC en Leanie het vier jaar gesukkel om swanger te raak en drie inseminasies en drie in vitro-behandelings later het hulle uiteindelik die goeie nuus gekry dat hulle gesin sommer heelwat gaan uitbrei.
Leanie en MC versorg hulle drie babas self, sonder enige eksterne hulp. Hulle het lank gewag en hulle wil dié groot seën elke dag koester. En ja, hulle wil graag nog kinders hê, want dis baie lekker om dié drietjies in hulle lewe te hê.
“Ons het nog twee embrio’s wat ingeplant moet word. Hierdie was ‘n in vitro- swangerskap, hulle het twee embrio’s ingeplant en een het verdeel, dis hoekom daar drie is” sê Leanie.
Haar grootste wens vir haar drie kinders is dat elkeen God sal volg en dat hulle Sy liefde in hul lewens sal ervaar. En sy sou die drie graag op ‘n dag Wildtuin toe wil vat.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.