3 vas ná poligraaftoetse

Stephan April Malesela Matlou

LEPHALALE — Drie mans is verlede week gearresteer vir renosterstroping op ’n plaas buite Lephalale. Tshepo Phasha Kgoete (30), Sthembiso Vusi Chauke (29) en Stephan April Malesela Matlou (33) was lede van ’n teenrenosterstropingeenheid op die plaas en hulle was verantwoordelik vir die beskerming van die renosters.

Sthembiso Vusi Chauke

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden, hoof van die Bedreigde Spesie-eenheid in die Waterberg, het hulle Dinsdag 12 November poligraaftoetse op lede van dié eenheid gedoen. Nege lede het nie die toetse geslaag nie en by verdere ondersoek is bevind dat bogenoemde drie mans verbind word met die onwettige jag van renosters in Lephalale in Junie vanjaar. Die renosters wat in Junie gevind is, was onthoring en die spore van drie verdagtes is op die toneel gevind.

Tshepo Phasha Kgoete

Kgoete, Chauke en Matlou is positief verbind deur middel van uitwysings en bekentenisse.
 Hulle werk al drie vir dieselfde teenrenosterstropingseenheid en hulle is Suid-Afrikaanse burgers. Hulle het Maandag 18 November in die Landdroshof in Lephalale verskyn en die saak is uitgestel dat hulle regshulp kan kry.

Die ondersoek duur voort om hulle, asook ander lede van die eenheid, te verbind met die skiet van twee renosters op dieselfde plaas in Oktober vanjaar.

Volgens ao Van Heerden was die modus operandi presies dieselfde. Hulle het mense van Giyani-omgewing af gekry om die renosters plaaslik te kom skiet. Een van hulle gaan saam met die stropers die plaas in, terwyl die ander twee die area beman en sorg dat daar geen patrollies in daardie area gedoen word nie. Die spore word dan daarna gekry en die skuldiges jaag saam met die res van die eenheid om die stroping op te volg en die verdagtes te soek, wat teen daardie tyd reeds van die plaas af is en op pad is huis toe met die horings.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.