3 vas vir onwettig jag

Leoni Kruger
LEPHALALE — Drie mans is die afgelope naweek op die Stockpoortpad gearresteer nadat hulle na bewering onwettig wild gejag het by Sitatunga Safari Lodge en gastehuis.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, het die drie mans na bewering onder meer ‘n blesbok en twee rooibokke onwettig gejag, maar hulle beweer dat een van die werkers op die plaas vir hulle toestemming gegee het.
Frans Troskie, eienaar van Sitatunga, sê hy het nog nie met die werker gepraat nie, maar volgens sy kennis het die drie mans ander blyplek gehad en net gaan kuier by iemand wat by die lodge gebly het. Hulle het blykbaar aan die kuier geraak en daarna, na bewering saam met die werker, die wild geskiet. A.o. Mokoena sê die werker het die polisie geskakel om die saak te rapporteer.
Die drie mans, Abraham Johannes du Toit (38), Niel Anton Defin(43) en Daniël le Roux (35), is woonagtig in Polokwane en het Maandag 22 Februarie in die Lephalale Landroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 14 Maart 2016.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.