3 vas vir stroping

Aaron Mzimba Mathonsi LEPHALALE — Drie verdagtes is Donderdag 25 April in Marapong gearresteer in verband met renosterstropery.

Aaron Mzimba Mathonsi

Adjudant-offisier Jurg van Heerden van die SAPD se Bedreigde Spesie-eenheid sê hy het Donderdag inligting vanaf Noordwes ontvang dat daar ʼn verdagte voertuig, wat voorheen by renosterstropery betrokke was, op pad is na Lephalale via Thabazimbi.

Filipe Armando Homo

Volgens ao Van Heerden het hy die voertuig, ʼn swart BMW X5, in Nelson Mandelarylaan naby die TVET-kollege opgemerk en hy het ondersteuning ontbied. Hy het die voertuig gevolg tot in Marapong waar dit agter ʼn winkelkompleks gestop het. Vier mans het uit die voertuig geklim en drie het teruggekeer – volgens ao Van Heerden het hulp opgedaag en hulle het die drie verdagtes vasgetrek.

Cayphius Manjike

Die BMW is in die teenwoordigheid van die bestuurder deursoek en ʼn knaldemper en .375-rondtes ammunisie is in die voertuig gekry. Met verdere ondersoek is ʼn .375-jaggeweer onder die enjinkap gekry waar dit versteek was.

Die drie verdagtes is na die polisiestasie in Lephalale geneem vir verdere ondersoek.

Die drie verdagtes, Filipe Armando Homo (47) – die bestuurder van die voertuig, Cayphius Manjike (47) en Aaron Mzimba Mathonsi (51) het in die Landdroshof in Lephalale verskyn en die saak is uitgestel na Donderdag 9 Mei.

Mathonsi word onder andere verbind met renosterstroping in die Krugerwildtuin en Lephalale.
 Ao Van Heerden bedank almal wat hom gehelp het en in besonder vir Reinhardt Coetzer van HPG.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.