33 leeus gered — veilig in SA

Leeus-arriveer-Die-blinde-leeumannetjie-maak-deel-uit-van-die-nuwe-33-leeus-van-Suid-Amerika
Dié blinde leeumannetjie maak deel uit van die 33 leeus vanuit Suid-Amerika

LEPHALALE / VAALWATER — 33 leeus het Sondag 1 Mei by die Emoya Big Cat Sanctuary tussen Vaalwater en Lephalale arriveer.
Die groep wat uit 11 wyfies en 22 mannetjies bestaan, is afkomstig vanaf Suid-Amerika en is deur die ADI (Animal Defenders International) gered. Hulle het ook die uitvoerpermitte en vervoer na Suid-Afrika gereël.
“Nege van die leeus kom direk vanaf ʼn sirkus in Colombia en is tans nog baie aggressief teenoor mense. Van hierdie leeus was nog nooit in ʼn veld nie en Sondag was die eerste keer ooit dat hulle teen ʼn boom kon skuur of krap. Dit was baie hartseer en ‘n oomblik van blydskap wat ek saam met die res van die span kon deel,” het Savannah Heuser, stigter en eienaar van Emoya Big Cat Sanctuary, vir Mogol Pos gesê.
Die ander 24 leeus is afkomstig vanaf Peru waar hulle ook deur lede van ADI weggeneem is van sirkuseienaars. Hierdie leeus was die afgelope ses maande in ʼn rehabilitasiesentrum in Peru terwyl die nodige fondse en permitte gereël was.
“Ons het al voorheen ses leeus besit. Hulle was onderskeidelik afkomstig van Egipte, Frankryk en plase in Limpopo. Ons het ook twee tiers wat ons tans aanhou,” sê Heuser.
“Dit was nog altyd my droom om met groot katte te werk en ons het reeds ses jaar terug begin om vir die nodige permitte by Natuurbewaring aansoek te doen. Daar was steeds baie administrasiewerk om te doen voordat ons die 33 nuwe leeus kon verwelkom en natuurlik ook ʼn groot klomp fisiese werk om die plaas se infrastruktuur reg te kry,” sê Heuser verder.
Daar is nege stelle fase een-kampe waarin die 33 nuwe leeus afgelaai is. Die leeus sal tussen 6 en 12 maande in hulle nuwe hokke bly voordat hulle na die aangrensende, en heelwat groter, fase twee-kampe verskuif sal word. Die leeus sal dan in groepe gevestig word sodat hulle ook weer ʼn hegte familieband met ander leeus kan vorm.
“Die leeuwyfies gaan wel gesteriliseer word omdat die doel van die projek nie is om te teel nie, maar meer soos ʼn aftree-oord vir die diere.”
Die leeus gaan ses dae van ʼn week gevoer word en is tans op ʼn suiwer wildsvleisdieet. Trofee-jagdiere, wat se vleis nie deur mense gebruik word nie, soos olifant, kameelperd, sebra, seekoei en nog meer, sal die grootste gedeelte van hulle dieet uitmaak. “Ons sal enige wildsvleis baie waardeer en professionele jagters moet ons asseblief kontak sodat ons vooraf vir ʼn prys per kilo kan onderhandel,” sê Heuser.
Enige lesers wat belangstel om by die projek betrokke te raak of selfs net die leeus te besoek, kan die Emoya Big Cat Sanctuary se Facebook-blad besoek en ʼn boodskap aan die span stuur. Boodskappe word daagliks gemonitor. Laat net jou kontakbesonderhede en ‘n kort verduideliking van in hoe ‘n mate en waarmee jy betrokke wil wees. Lesers wat graag as vrywilligers by die projek betrokke wil raak sal hokke help skoonmaak, leeus voer en ander verwante take verrig.
“Ek wil net graag weer baie dankie sê aan ieder en elk wat op watter wyse ookal betrokke is by hierdie projek. Dankie ook aan almal van die omgewing vir donasies en ander skenkings wat dit moontlik gemaak het om dié leeus in Suid-Afrika te verwelkom” het Heuser afgesluit.
Enigiemand wat graag ‘n skenking of donasie aan hierdie projek wil maak, besoek gerus
https://www.facebook.com/BahatiVolunteer vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.