4 dae in stad, bakkie gesteel

Leoni Kruger
LEPHALALE — Michael Kotze was skaars vier dae in die stad toe sy trots, sy Toyota Hilux-bakkie, helder oordag gesteel word.
Michael was verlede jaar in matriek aan die Hoërskool Ellisras en het vroeg in Januarie by die Blou Bul Akademie in Pretoria aangesluit. Hy was in ‘n gimnasium besig om te oefen toe sy ma, Heleen, omstreeks 11:00 ‘n oproep van ‘n voertuigopsporingsmaatskappy ontvang dat daar aan die voertuig “gepeuter” word. Sy kon Michael aanvanklik nie in die hande kry nie, maar later het die boodskap by hom uitgekom. Toe hy buite kom was sy bakkie weg. ‘n Ooggetuie wat gesien het hoe die bakkie wegry het vir Michael gesê sy het gesien hoe loop daar mans heen en weer met nommerplate in hul hande, maar sy het nie besef die voertuig word gesteel nie.
Volgens Michael is die een deur se slot met ‘n skroewedraaier gebreek en hulle het só toegang tot die voertuig gekry.
Hierna het Heleen weer die voertuigopsporingsmaatskappy geskakel, maar hulle kon nie die ligging van die voertuig vasstel nie. Michael sê gelukkig is die pa van een van die seuns wat saam met hom by die akademie is, ‘n privaat speurder en die kind het sy pa gebel om te help soek. “Die inligting is blitsvinnig deurgegee en baie mense het help soek. Die polisie het eers ‘n uur nadat dit gebeur het opgedaag” sê Michael.
Michael se bakkie is net na 13:00 deur die polisie naby Soweto gevind en een van die verdagtes wat nog by die voertuig was, is gearresteer. Die ander verdagte het weggehardloop.
Teen druktyd het Michael laat weet dat die versekering waarskynlik die voertruig gaan afskryf. Die skade aan die binnekant van die bakkie is net te veel. “Daar is letterlik niks wat hulle nie beskadig het nie – vermoedelik in hulle soektog na die opsporingstelsel” sê hy.
Die verdagtes het Michael se bankkaarte, ID-dokument en sy bestuurslisensie in die voertuig gelos, maar sy sport- en klere- en jagsak asook foto’s, twee pare tokse, nuwe tekkies en sy nuwe skootrekenaar is weg saam met die verdagte wat weggekom het.
By navraag het Thys Eloff, voorsitter van Lephalale GPF, bevestig dat Christoff Meyers, ‘n vriend van die Kotze’s en aktiewe lid van Lephalale GPF, hom net na die voorval geskakel het. Eloff het op sy beurt met die GPF in Pretoria geskakel en hulle het blitsvinnig hulp na die betrokke area gestuur. Volgens inligting ontvang het sowat 17 GPF-voertuie gehelp soek na Michael se bakkie.
Teen druktyd was die een verdagte steeds soek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.