4 verdagtes vas na roof

OVERYSSEL — Vier verdagtes is verlede week gearresteer deur lede van die Lephalale SAPD klustertaakspan en lede van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n misdaadbestrydingsorganisasie, in verband met huisroof en die aanhou van plaaswerkers op die plaas Leadwood in die Overyssel/Tambotie-area op 12 Julie vanjaar.
Mogol Pos het in die uitgawe van 14 Julie berig dat vroulike werknemers Dinsdagmiddag 11 Julie rondom 18:00 deur drie mans oorval, aangerand en vasgebind is, waarna hulle die huis geplunder en verskeie goedere gesteel het, onder andere TV’s, fietse en ‘n .30-06-jaggeweer. Die werkers is nie ernstig beseer tydens die rooftog nie. Hulp is vanaf boere uit die omgewing verleen en Villa Nora SAPD is ontbied. Die verdagtes se spore is gevolg tot by die Beauty-grondpad waar hulle deur ‘n voertuig opgelaai is.
Lede van HPG het saam met die Taakspan op die spoor van die verdagtes gebly en vier mans is Woensdag 26 Julie in die vroeë oggendure in Mabopane, noordwes van Pretoria, gearresteer.
Volgens Sakkie Louwrens van HPG is een handwapen, een jaggeweer, fietse en van die huishoudelike ware wat gesteel is, teruggekry. Die handwapen is geïdentifiseer as een wat tydens ‘n vorige rooftog gesteel is en dit is waarskynlik tydens hierdie rooftog gebruik om die werkers aan te hou.
Die vier verdagtes is John Mlambo (35), Witness Simango (32), Collen Muleya (40) en Moeketsane Jerry Thabiso (37).
Die verdagtes het Vrydag 28 Julie in die Landdroshof in Lephalale verskyn en die saak is uitgestel tot 8 Augustus wanneer ‘n borgaansoek gerig sal word.
Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.