55ste Bosveld-Interhoër vanjaar plaaslik

LEPHALALE — Die 55ste Bosveld-Interhoëratletiekbyeenkoms word Saterdag 24 Februarie deur Hoërskool Ellisras aangebied. Die byeenkoms sal reeds om 07:00 begin met die tradisionele atlete-optog van die sewe deelnemende skole, naamlik Hoërskole Ellisras, Frikkie Meyer, Hans Strijdom, Warmbad, Ben Viljoen, Piet Potgieter en Nylstroom.

Die dag beloof om nie alleen te sorg vir groot opwinding op die atletiekbaan en –veld nie, maar ook op die pawiljoene waar die skole se sangers sake vir die gesogte sangbeker gaan uitspook.

Besoekers word versoek om gebruik te maak van die ingang in OR Tamboweg (regoor Laerskool Ellisras), aangesien die ingang in Albertstraat slegs vir busse, beamptes, gaste en helpers gereserveer word. Geen huurmotors sal op die terrein toegelaat word nie en voetgangers word daarop gewys dat hulle ook van die ingang in OR Tamboweg gebruik moet maak.

Toegang is R20 per volwassene, R10 per laerskoolkind (voorskoolse kinders gratis), R10 per pensioenaris en R20 per voertuig vir veilige parkering op die terrein.

Programme sal te koop wees teen R20 elk.

Kaartjies sal op die dag uitsluitlik by die ingang in OR Tamboweg te koop wees – NIE voor die tyd nie.

Neem asseblief kennis dat daar geen spasie beskikbaar is vir privaatgazebo’s nie en dat koelhouers nie op die pawiljoene toegelaat sal word nie. Slegs amptelike fotograwe wat oor amptelike toegangskaartjies beskik sal op die veld toegelaat word.

Verversings, naamlik pannekoek, boereworsrolle, sosaties, kerrie en rys, hamburgers, “chips” en geroosterde toebroodjies sal te koop aangebied word en natuurlik is daar ook drinkgoed beskikbaar. Moenie hierdie groot geleentheid – wat slegs elke sewe jaar plaaslik aangebied word – misloop nie.

Ouers en ondersteuners word versoek om Rassie-ondersteunersdrag te dra.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.